Waarskuwing! Ek meng vandag my taal bietjie in hierdie post. 😉
Inspirasie. Dis ’n gevaarlike woord. Veral wanneer jy sê, “Ek wag vir inspirasie.” Inspirasie kom en gaan. Inspirasie het sy eie tyd. Inspirasie is nie wat ’n ding gaan klaarmaak nie. Dit gaan nie die woorde op papier sit nie. Om te wag vir inspirasie en/of motivering kan beteken jy gaan weke, maande, dalk selfs jare wag voor die ‘inspirasie’ jou tref en jy die taak uiteindelik aanpak.
Ek het onlangs ’n twee weke power mindset challenge gedoen en daarna nog ’n soul searching uitdaging ook. Hoekom? Om weer op dreef te kom en myself en wie ek nou is weer te vind. Ek het weer my eie ek ontdek en daarmee saam die kragtige woorde: Don’t wait for motivation (and/or inspiration). Commit and get it done.
So wat beteken dit? Dit beteken hou op wag! As jy iets wil doen, doen dit. As jy daardie boek wil skryf – dis nou ekke –, gaan sit en al is dit aan die begin net vyf minute, skryf. Enigiets. Al vee jy dit later uit. Pas die Pomodoro technique toe. Sit jou foon op silent of op ‘Do not disturb’. Glo my, jy het dit nodig as jy soos ek sukkel om gefokus te bly. Om te werk sonder onderbreking kry jou daar. Stel ’n timer. Dit werk vir enige aspek van jou lewe. Vyf minute per dag. Na ’n week, probeer jy vir tien minute per dag dit doen. Die week daarna vyftien minute.
Ons het almal soms nodig om net weer ons eie ek te vind. Ons raak so vasgevang in die alledaagse gejaag en met almal wat van ons tyd wil hê, dat ons uiteindelik onsself en wat ons nodig het begin afskeep. En weet jy wat? Jy kan nie uit ’n leë beker skink nie. Jy is die beker en as jy niks insit nie …
Ek lei baie jare al aan procrastination (Ek kry nie ’n mooi Afrikaanse woord hiervoor nie). Ek het geleer hoe om dit hok te slaan, maar by tye raak dit my oor. Dis waar die dag tot dag herbou na waar ek wil wees dan weer begin. Dis bevredigend wanneer jy uit daardie kettings breek. (Terloops, daar is baie gratis persoonlike groei uitdagings aanlyn of in jou foon se PlayStore, jy hoef nie ’n pakket te koop om jou te help nie.)
Dis met verwondering dat ek vandag terugkyk na die byna agtduisend woorde wat in een week se tyd uit my vingerpunte voortgevloei het. Dit terwyl ek ’n paar maande gelede skaars ’n duisend woorde in dieselfde tyd kon optower. Inspirasie het kom hallo sê. Hoekom? Want ek het BOSVOS – Boude op stoel, vingers op sleutelbord – en al die boegenoemde toegepas. Hoe bevredigend!
You can do anything you set your mind to … Just do it! Ware, ware woorde. Nog nooit so waar soos juis nou nie. Byt net vas en druk jouself elke dag om ’n treetjie vorentoe te gee. Jy sal dan wel by jou mikpunt uitkom. En ek gaan myne uiteindelik – en klaarblyklik – vinniger bereik.
Hierdie is my persoonlike ondervinding en nie bedoel om enigiemand aan te hits om skielik aan hulleself te gaan werk nie. As jy wel daarby baat vind, dan is ek ook bly en ek wens jou net die beste toe. Ons almal moet soms bietjie soul-searching doen.
As jy belangstel in persoonlike groei, om jouself te vind of sommer net ander lekker uitdagings, ek gebruik hierdie toep: https://21dayschallengeapp.com/