O, Troukoek!

DSC_0873

“Mensig, maar troukoek is duur,” was my woorde so vier jaar gelede. Die eindproduk was egter elke rand werd en ons het dit met ’n breë glimlag betaal.

‘n Vriendin het hierdie jaar Januarie dieselfde gesê en met hul begroting bietjie knap, het ek aangebied om die koek te bak en dit boonop as trougeskenk te doen. Ek is immers nie te sleg met bak nie en geniet ‘n uitdaging. Hoeveel moeite kan dit dan nou wees? ‘n Wit koek met naakte versiersel en ‘n paar vetplantjies om dit af te rond klink maklik genoeg. Maar wie soek dan nou gewone vanielje koek, ons maak dit ’n kombinasie van lemoen en sjokolade-koffie lagies. Heerlik!

Ek haal vandag my hoed af vir elke bakker/bakster wat koek bak vir ‘n lewe. Hetsy dit troukoek, verjaardagkoek, ooievaarstee koek of wat-die-okasie-ook-mag-wees-koek is. Dit is WERK. Vandag verstaan ek hoekom daardie perfekte koeke so baie kos en het ek baie meer waardering vir daardie stukkie hemel wat jy en jou geliefdes deel.20180519_122259

So voor jy volgende keer jou kleintongetjie wil insluk, dink bietjie aan hoeveel ure se werk daardie persoon moet insit vir iets wat deel van jou mooiste herinneringe gaan word … en geniet daardie happies ten volle.

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a comment