Proeseltjie: Krummelpap in Parys – Ciska Olivier

Hy vat haar hand en kyk na die verskeie krulle, draaie en patrone van die armband. “Dit is mooi.”

“Dankie.” Sy trek haar hand terug, maar kan die trots wat in haar opstu nie onderdruk nie. “Die oorbelle is hul pasmaats, maar nie die halssnoer nie. Noem my maar obsessief, maar die meeste van my eie juwele het ek self gemaak. Dit is net geskenke soos hierdie wat nie my eie werk is nie.”

Sy oë vonkel toe hy glimlag. “Jy is jou eie advertensiebord. Hoekom nie uitstal wat jy doen nie? Boonop is die agtergrond verruklik.”

Sy voel hoe ’n blos in haar wange opskuif. Sy is al baie dinge genoem, maar nie een keer het sy daaraan gedink dat sy ’n bewegende advertensie is nie. Dat die man ook nie op sy mond geval is nie, is onbetwisbaar. As sy enigsins minder selfversekerd was, sou sy gedink het hy is die grootste flirt denkbaar.

“Wat is jou beroep?” vra sy nadat sy ’n slukkie van haar martini gedrink het.

“Ek is ’n huisagent.”

Boring, gaan die gedagte deur haar kop en sy skrik daarvoor. Sy het al saam met heelwat huisagente gekuier en ’n paar tel onder haar vriendekring. Dalk is dit net omdat sy iets meer in die lyn van model of besigheidsman of selfs iets so verregaande soos restaurateur verwag het.

“H’m, ek het jou nie as iets so alledaags geëien nie.”

Sy wenkbroue trek op en hy sit effens terug. “Werklik?”

Sy besef sy het hom waarskynlik uit die veld geslaan en dat hy dalk nie so ’n reguit antwoord verwag het nie.

“Ekskuus. Ek is soms te openhartig met wat ek dink.”

Sy wysvinger speel oor die rand van sy glas. “Jy is voorwaar nie skaam nie, dis vir seker.”

Sy glimlag net en sluk aan haar drankie. Sy is al baie keer vermaan oor haar onnadenkendheid, maar haar vriende ken haar so en skaamte het sy haar lewe lank nooit geken nie. As die man daardeur afgeskrik word, nou ja, dan is dit sy probleem.

“Hoe lank kan ek hoop om jou in my land raak te loop?”

“Wil jy?” vra sy skertsend en draai die glas aan sy steel in die rondte.

Hy kyk ’n oomblik nadenkend na haar, knik dan stadig. “Ek sou dink my belangstelling is teen hierdie tyd duidelik.”

Sy lag sag en lig die glas na haar lippe. “Ek was bang ek het jou met my reguit antwoord afgeskrik.”

Hy glimlag wolfagtig. “Dit vat heelwat meer as reguit taal om my van stryk te bring, Mademoiselle.”

Sy herkou die stukkie inligting en knik. Sy wil nie ’n aanhangsel hê nie en die man lyk hopeloos te seker van sy saak. Die feit dat sy elke truuk in die boek ken en die spel gereeld speel, maak dat sy geen nuutjie op die gebied van flirtasie is nie en hy moes dit tog reeds besef het. “Ek vermoed jy weet klaar waar ek tuisgaan. Dit sal gaaf wees om ’n inboorling te ken wat my van die besienswaardighede kan vertel.”

“Alte seker,” stem hy in en sy blou oë flikker avontuurlik.

Koop Krummelpap in Parys hier:  https://lapa.co.za/krummelpap-in-parys

Ook beskikbaar as e-boek.

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s