2018 … was dit maar net een jaar?

Dit voel asof hier baie meer dae in hierdie volgepakte jaar was. 2018 was voorwaar tjok en blok vol oppe en affe. Hoogtepunte en laagtepunte. Goeie dinge, amazing dinge, ongelooflike dinge … maar ook minder positiewe oomblikke …

2018 was vir my ’n jaar van verandering. My pad het baie skielik, baie vinnig en baie groot verander.

Wat hierdie jaar so ‘vol’ gemaak het;

My eerste manuskrip is goedgekeur … en toe die tweede, derde, vierde, vyfde en sesde een! ONGELOOFLIK! Ek is ongelooflik dankbaar. Ek het dit glad nie verwag nie. Dit was die top hoogtepunt van my jaar. Dankie Cliffordene. Dankie Lapa Uitgewers. En ’n groot dankie aan my mentor, Madelie Human. Maar die grootste dank is aan my man. Corne. Jy is my grootste ondersteuner, aanmoediger en sonder jou liefde, sou ek nie so oorgeloop het nie. Dankie dat jy soms aandete gemaak het wanneer my vingers aan die sleutelbord vasgegom was!

Ons Mosambiek trip was asemrowend. Om boonop nuwe spesies vis te vang, briljant en die snorkel … ek sal môre weer gaan as ons kan.

My beste vriendin het weer liefde gevind. ’n Man wat haar en die meisiekinders ongelooflik liefhet. Faffie, my hart blom vir jou vriendin!

Nog ’n vriendin het die man van haar hart voor die kansel ontmoet – Thea & Hansie, dankie dat ek julle troukoek kon bak. Dit was ’n besonderse ervaring. Mag julle baie jare se geluk en vreugde oes.

My ander beste vriendin het nog ’n bondeltjie vreugde in hul lewe verwelkom … ek raak sommer tranerig van blydskap vir julle, Petro. Julle is awesome! Hou aan glo en vertrou.

My sussie het haar Dusk till Dawn uitstalling gehou en Annie, dit is beyond compare! Die gawe wat jy ontvang het en wat in daardie hande van jou skuil tot jy ’n verfkwas optel … dit is out of this world! Dankie ook vir jou ondersteuning en dat jy my manuskripte verslind voor ek dit kan voorlê. Net om seker te maak ek laat my karakters nie te veel toe om met my verbeelding weg te hol nie.

Waterberg … O, Waterberg ek het jou uiteindelik besoek en tussen jou roesrooi kranse en lowergroen bome het ’n nuwe storie begin ontwikkel. ’n Naweek saam met vriende, hartsvriende, eintlik al familie, was nog min kere so besonders. CJ & Kobus – julle is bejitz!

En raai! Ek ontvang nuus dat ek tannie word aan die eerste Olivier-seun van ons volgende generasie. Jaco, Hulde, julle het reeds ’n engeltjie van vreugde in ons lewens ingebring, maar ons sien net so baie uit om vir kleinboet te ontmoet!

Sossusvlei – ’n terugkeer na waar baie dinge begin het. ’n Landskap van sand waar jy verdwaal in jou gedagtes en verstom staan deur sy diversiteit. ’n Laaste wegbreek vir my en my man, voor ons lewe skielik drasties begin verander het.

Soms is die keuses wat jy moet maak maklik, ander kere moeilik en ander kere laat dit jou konstant wonder of jy die regte ding doen of gedoen het. Ek het in die stad agtergebly terwyl my man solank plaas toe gegaan het. Die ekonomie het sy tol geëis en die maatskappy waar my man werk was deel van sy slagoffers. Dankie tog ons het ’n reddingsboei in hierdie storm gehad. Baie ander is nie so gelukkig nie en ons besef dit deeglik.

Ek het egter in die stad agtergebly – by my werk. ’n Vaste inkomste in ’n tyd wat baie met onsekerheid gevul het. In elke beroep, elke besigheid. Geen maklike taak nie. Nie wanneer jy aan die noue verhouding wat ons huwelik was gewoond is nie. Om mekaar vir weke nie te sien nie, maande aaneen – dit was ons eie soort hel. Een wat ek gereeld spyt oor was – en nog is. Ek moes egter by my besluit berus – en wanneer hierdie jaar sy laaste sekondes tik, laat ek ook hierdie skuldgevoel agter. Die toekoms wink en ek lewe om oor niks spyt te wees nie. Ek het aan almal gedink – nie aan ons nie. Nie aan wat dit aan my en my man kan doen nie. Maar ons het die tyd oorwin en ons sal sterker hier uitkom. Dit glo ek vas. WANT LIEFDE OORWIN ALLES.

My eerste twee romanses is vrygestel – en wonder bo wonder en ja ek brêg … sit Krummelpap in Parys vir twee weke op Amazon se top 5 en kuier gereeld op die Nr.1 plek! En sit onder die top 10 topverkopers van liefdesromans by Grafitti boeke. Die hemel … Ja, dit bestaan.

My man besluit vir die eerste keer in sy lewe om sy baard vir Movember te laat groei … en laat dit tot Desember voortduur. Dis vreemd en tog pas dit hom. Salt & pepper en laat my sien hoe die verskil kan lyk – weereens vir navorsing. 😉   Maar ek verkies hom nog maar skoongeskeer. Dis immers hoe ek van hom hou. Boonop lyk hy sommer weer tien jaar jonger!

En hier op laaste … op my voorlaaste dag by die gastehuis, kom staan en ontmoet ek ’n Hollywood ster – Spiderman! Ook ’n komediant, ’n movie ster/director, ’n fotograaf en overall ’n ongelooflike nice familie. Wat ’n manier om die laaste dae by my werk af te sluit. En dit omdat hulle soos ’n gewone gesin wil toer eerder as die celebs wat hulle is. Awesome mense. Julle het ons jaar gemaak, Holland’s!

Ek sluit hierdie jaar saam met my man langs Waterberg af … op ons anniversary naweek wat ons nie gehad het nie, maar eerder langs die kus deurgebring het – want, o ja! My ouers het uiteindelik hulle jarelange droom om ’n huisie langs die see te kry verwesenlik. Ma & Pa – dankie vir alles wat julle oor die jare al vir ons gedoen, geleer en gegee het. Julle verdien elke geluk & vreugde wat na julle toe kom. Ek hoop dat 2019 geseënd sal wees en die kommer bietjie weg gewas sal word sodra die reën begin val.

En dan eindig ons die jaar 2018 op ’n hoë noot en begin ’n nuwe jaar 2019 saam met jarelange vriende. Vriende wat jare al saam met ons loop en deel is van meerderheid visvang trips. Svenja, Paul – hou die blink kant bo. Net soos ’n vis, sal julle deur hierdie stroom wat kom ook swem.

2018 was ’n goeie jaar. ’n Besige jaar en ek ontdek konstant nog iets wat gebeur of in ons lewens afgeloop het. Dit was ’n jaar vol oppe en affe. ’n Jaar met baie hoogtepunte en ook ’n paar laagtepunte …  Wie weet wat 2019 inhou. Ek glo egter dit gaan een wees om te onthou. Een om na uit te sien. Een om te gryp en die beste daarvan te maak. Carpe diem!

So wat hierdie jaar ook al oor jou pad gebring het:

HOU MOED. TREK TERUG JOU SKOUERS. TREK IN JOU ASEM EN LOOP 2019 SELFVERSEKERD BINNE. DIS JOU JAAR. MAKE IT COUNT!

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s