Proeseltjie: Blomme vir Melissa – Ciska Olivier

Sy haal so diep asem as wat haar beknopte longe haar toelaat, net om haar senuweeagtigheid ’n bietjie te demp. Dit help nie veel nie en sy trek die voordeur maar gelate oop toe Nico klop.

“Môre,” groet hy lighartig, sy groen oë vonkelend soos sonlig deur glas.

“Môre,” kry sy verbasend gelykmatig uit.

“Dit is vir jou.” Hy hou ’n bossie angeliere na haar toe uit.

Sy sluk en vat dit stadig. “Dankie, maar jy hoef nie blomme aan te dra nie.”

“Ek wil.” Sy glimlag weifel. “Hopelik help dit dat jy my vroeër eerder as later vergewe.”

Sy sien hoe sy oë haar siel soek en kyk vinnig weg. Sy tree terug en nooi hom in. “Iets om te drink?” vra sy toe hulle in die sitkamer kom.

“Is jy bereid om lank genoeg in my geselskap te bly?”

Sy besef opeens dat sy haarself nou in ’n hoek het en knik gelate.

“Dan sal koffie lekker wees, dankie.”

Sy knik en vlug kombuis toe. Dit is eers toe sy die ketel aanskakel, dat sy die angeliere in haar hand onthou en sy soek ’n vaas in een van die kaste. Dit is ’n verskeidenheid van kleure, maar die witte met pienk rande is vir haar die mooiste en sy ruik daaraan.

“Ek is bly om te sien jy kan nog glimlag.”

Sy spring verskrik agtertoe en bots teen die toonbank.

“Melissa,” hy kom vinnig nader en vat haar hand. “Ek is regtig jammer.”

Sy trek haar hand uit syne en draai weg. “Ek is oukei. Dit maak ook nie saak nie.”

“Dit maak saak.” Hy sug swaar en sy kake bult voor hy verder praat. “Ek weet ek kan dit nie ongedaan maak of ooit vergoed daarvoor nie, maar ek sal doen wat ek kan om jou weer gelukkig te sien.”

“Hoekom?” wil sy wrewelrig weet.

“Melissa.” Hy sluk en kyk stil na haar, so asof hy sonder woorde is.

Sy oë is anders as wat sy dit onthou en hy was nooit sonder woorde nie. Hy het ook nooit aan die gevolge van sy dade gedink nie. Hy het altyd so traak-my-nie-agtig opgetree. Niks kon sy geesdrif onderdruk nie en hy het altyd gelag. Sy oë was voortdurend opgewek. Hy was so anders as die mense wat sy al in haar lewe ontmoet het, en toe hy boonop belangsteling in haar toon, kon sy haar geluk nie glo nie.

Vandat hy egter weer in haar lewe verskyn het, kan sy nie onthou dat sy al een van sy vol glimlagte gesien het nie. Daarvoor is sy oë te onseker; sy ken hom nie so nie.

Hy kry homself duidelik weer onder beheer. “Jy verdien om gelukkig te wees en nie alleen te moet cope met wat ek aan jou gedoen het nie. Dit was kleinlik en selfsugtig en ek sal doen wat jy vra, solank jy my nie uit my kind se lewe verban nie.”

Sy byt haar lip en probeer haar bes om ’n ongeërgde front voor te hou terwyl sy wegdraai om bekers uit die kas te haal. “Jy vra baie, Nico.”

“Ek weet. Ek was net so onkant gevang dat ek nie reguit kon dink nie.”

Sy trek haar skouer op. “Dis water onderdeur die brug.”

“Hou op om te maak asof alles oukei is. Asof jy nie omgee nie.”

Sy swaai om, al haar voornemens om koel en afsydig te bly vergete. “Ek gee om,” roep sy driftig uit en sien hoe hy skrik. “Meer as wat jy ooit sal besef. Maar hierdie kindjie is my kans op ’n familie. My eie gesin. Jy behoort dit tog die beste van almal te verstaan, Nico.”

“Ek verstaan inderdaad. Beter as wat jy dink,” sê hy stadig.

“Hou dan op om te maak of ek so ’n groot las dra. Natuurlik was dit nie maklik nie en ek sou dit waardeer het as jy my van die begin af geglo het, maar ek sal my kind vir niks in die wêreld verruil nie. En niemand gaan haar van my af wegvat nie.”

“Ek sal dit nooit doen nie.”

Sy knik en maan haarself tot kalmte. “Dan verstaan ons mekaar.”

Hy is lank stil. “Mag ek dus hoop om deel van ons kind se lewe te wees?”

Sy sluit haar oë en sug. “Ek kan jou nie ontneem van wat jou reg is nie.” Sy maak haar oë oop en sien hoe hy nader tree. Sy retireer. “Moenie. Dit beteken nie dat ek en jy dinge gaan hervat waar dit geëindig het nie.”

“Ek het nie gedink jy sal nie.”

Sy frons maar vra nie wat hy dan wou doen nie. Sy gooi koffie en suiker in sy beker en besef gefrustreerd dat sy nog onthou hoe hy dit drink.

“Ek weet nie of enigiemand dit al vir jou gesê het nie, maar jy is mooier as ooit.”

“Moet my nie heuning om die mond probeer smeer nie, Nico. Ek het nie lus vir jou vleitaal nie.”

Hy knik stadig en vat die beker toe sy dit vir hom aangee. “Jy wil nie iets drink nie?”

“Nee.”

Sy oë dwaal na die beker wat sy vir haar uitgehaal het, maar haar lus is weg en sy dink nie sy sal nou enigiets oor haar lippe kan forseer nie. Nie met hom so naby haar om haar polsslag aan te wakker nie.

Sy stap vooruit sitkamer toe en die stilte strek ongemaklik tussen hulle. Sy weet nie wat om verder vir hom te sê nie en blykbaar het hy ook gevra wat hy wou.

“Hoe lank is dit nog voor jy kraam?” praat hy eindelik eerste.

Sy kyk op vanaf die liggeel bloesie se soom waaraan sy gesit en rafel het. “Dit kan drie of vyf weke wees. Ek is nie seker nie.” Sy sien die verlore uitdrukking in sy oë en besluit om hom tog maar te red. Daar is toe tog iets wat hy nie weet nie en dit laat haar lagspiere onverwags kriewel. “Ek wil natuurlik geboorte gee, so dit hang van hierdie klein rakker af.” Sy vryf liefderyk oor haar maag.

“Ek wil hê jy moet by my huis kom bly.”

Sy voel hoe sy verbleek en skud haar kop. “Nee, dankie.”

“Dit was nie ’n aanbod nie.”

“En ek het nee gesê.”

Sy kake werk op mekaar. “Dit sal jou meer privaatheid bied,” probeer hy weer.

“Karien en haar man is heel tevrede daarmee dat ek hier aanbly. Buitendien ken ek hulle goed genoeg om te weet hulle sal my nie uitgooi as hulle genoeg van my gehad het nie.”

Die pyntrek wat oor sy gesig flits, laat haar onmiddellik skaam kry en sy kyk af. “Jammer,” sê sy sag.

“Dis oukei. Ek verdien dit.”

Sy kou haar lip en kyk uiteindelik op. “Dit gaan tyd vat om jou weer te vertrou. Moenie wonderwerke verwag nie.”

Hy knik stadig, maak sy beker leeg en staan op. “Ek weet. Ek sal jou nie langer ophou nie. Die spanning kan ook nie goed wees vir julle nie. Dankie dat jy ten minste bereid was om met my te praat.”

Sy knik en probeer opstaan, maar hy is skielik by haar en help haar op. Elektrisiteit skiet deur haar en laat haar stom terwyl sy net na hom kan opkyk.

Enkele oomblikke staar hulle na mekaar voor hy sluk en terugtree. “Ek, wel, ek hoop dat ek jou maar weer kan kom besoek?”

 

Koop Blomme vir Melissa hier: https://lapa.co.za/blomme-vir-melissa

Ook beskikbaar as e-boek.

Advertisements

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal kus studeer, voor ek teruggekom het Namibië toe. Ek het leeus en olifante teen die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en is ons in 2014 getroud. Na agt jaar in Windhoek, het ons uiteindelik na die roep van die natuur geluister en in 2019 die stad agtergelaat. Ons bestuur vandag 'n oord teen die Erongo berge, waar inspirasie my nog daagliks aanmoedig en ek die tyd wat ek kry gebruik om te skryf. Ons toer en kamp gereeld en nuwe inspirasie bly nooit ver agter nie. Ons hou daarvan om nuwe plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s