Lodge werk

Daar is twee dinge wat mense nie weet nie of wat mens vergeet van die lewe van bestuurders op ’n lodge.

  • Dat hulle drie tot ses weke aaneen, soos in daagliks – Sondag, vakansiedag, maak nie saak nie – werk voor hulle af is vir ses of twaalf dae. Dit hang van besigheid tot besigheid af watter siklus jy volg.
  • Dat hulle nie net ’n agt ure dag werk nie. Personeel kom en gaan op hulle skofte, maar die bestuur bly staan.

Ek is seker daar is verskeie plekke waar hierdie reëls nie van toepassing is nie, maar dit is die lewe waaraan ek gewoond was na my studies en hoe ek vir die eerste sewe jaar van my loopbaan gewerk het. Geen persoonlike lewe nie. Werk vandat jy jou oë soggens oopmaak, tot jy jou oë vanaand toemaak. En om die waarheid te sê het dit my daardie tyd nie vreeslik gepla nie. Soms was die dae oneindig lank en ander kere was die dae stil, maar by die werk was jy nietemin.

Dinge verander egter. Vir my het dit verander toe ek ontdek het wat ek misloop en veral toe ek my toekomstige man ontmoet het. Ek was amper 26 en dit was tyd vir ’n verandering.

Ek het stad toe getrek. So te sê letterlik agter ’n man aan. 🙂 Die eerste maand het ek nie geweet wat om met myself te maak nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek ’n 7:00 – 16:00 werk gehad en was ek twee dae per week af. Iets totaal ongewoons en was die aande onverwags lank. Dankie tog die liefde van my lewe het my in die volgende maand amper daagliks van hierdie lang aande kom verlos en om die minste te sê, het ons sommer gou-gou besef ons is vir mekaar gemaak en was die aande amper nie meer lank genoeg nie.

My lewe het begin en na ’n tyd kon ek weer my skrywersdroom begin najaag.

Dis ongelooflik hoe vinnig agt jaar verby kan gaan. Hoe maklik jy dinge begin vergeet. Een ding het ek egter nooit vergeet nie. So lief soos ek is vir die natuur en soveel soos ek dit op die lodges geniet het, was daar een ding wat ek wel onthou het. Die ure. Ongelukkig kan jou lewe nie altyd uitspeel soos jy dink dit sal nie en soms moet jy moeiliker besluite neem wanneer ’n nuwe deur wat oopgegaan het onverwags weer toegaan. Die stad was nie vir my ’n opsie om na toe terug te gaan nie. Jy kan nie vryheid smaak, net om weer terug te klim in daardie versmorende hokkie nie. Ek was dalk gelukkig in my werk en al die tyd wat ek op hande gehad het vir ons persoonlike lewe en die tyd wat ek gehad het om te skryf, maar my man was nie. Dit was tyd vir ’n verandering. Een wat drie jaar reeds in the making of was.

So toe die toekoms skielike weer gapend voor ons ooplê het ek die enigste keuse gemaak wat ons gehad het om te maak. Gaan terug lodges toe.

Nou, daar is een ander leefwyse wat die van ’n lodge manager uitdaag. Boerdery. Dit is lang dae, lang ure en ten spyte van Sondae ‘af wees’ is jy maar altyd by die werk en altyd besig. Ek weet ook daar is die persone wat hul eie florerende besigheid besit wat die nodige werk insit en in hierdie kategorie sal val.

Nou, my man het darem al so voorsmakie gehad van die ure aangesien hy ses maande reeds op die plaas was voor ons die skuif na ’n lodge gemaak het. Hy het aan die lang dae en ure gewoond begin raak. Vir my. Sad to say, na agt jaar in die stad waar ek ’n gerieflike 9 ure werk gehad het met een keer elke twee weke ’n aandskof, was dit ’n harde grondslag toe ek weer my eerste volle drie weke moes deurwerk en sommige dae tot vyftien ure skof moes insit. Jip. Vyftien ure uit vier-en-twintig uur van die dag is jy aan die werk gebonde. Die ander 9 ure slaap jy of probeer jy iewers ’n flikkering van jou persoonlike lewe terugwen.

Nou kyk, ek kla nie. Let wel, hierdie blog is genaamd In die gedagtes van ’n skrywer, so jy kry so kykie in my lewe en in my frustrasie. Ek is immers ’n vrou vir my man en my man is die lig van my lewe. Ons is getroud en is geregtig op privaat tyd saam, buite die werk. Ek is ook ’n skrywer. Ek het stories wat wag om neergepen te word … Maar waar? Wanneer? Waar maak jy tyd vir jou huwelik? Waar maak jy tyd om te skryf?

Tyd vir skryf? Hierdie een is makliker om te antwoord: Die probleem is dat dit nie help om te skryf wanneer ek uitgeput is nie. Dit laat ’n wrang smaak in jou mond agter. ’n Skrywer se styl is immers ’n refleksie oor wat in hulle gemoed aangaan. Net soos ’n kunstenaar. Wat hier in ons siel lê, kry uiting in ons talent.

Tyd vir jou huwelik? Hier loop twee dinge hand aan hand, want selfs my man is bekommerd oor die feit dat ek ses maande later nog nie weer kans gehad het om ’n nuwe verhaal te voorskyn te bring nie. Alhoewel ek darem kans gehad het om ’n vorige een aan te pas en ons nou naels kou vir die terugvoer. Want ja, ten spyte daarvan dat ek reeds 7 goedgekeurde boeke daar buite het, beteken dit nie dat dit nou sommer vanself gaan gebeur nie. ’n Wonderliker man kon ek nie voor gevra het nie. Sy ondersteuning en aanmoediging bly maak hom my held.

So. Hoegemaak? Plan van aksie:

  • Tyd om te begin tyd maak vir mekaar en ons hobbies elke dag en vir mense om te verstaan ons lewe nie net 6 dae van ’n maand nie. Ons het nie net 6 dae van ’n maand ’n persoonlike lewe nie.
  • ’n Paartjie wat saamwerk is onder baie meer stremming aangesien hulle baie mooi moet onderskei tussen werkswrywing en persoonlike wrywing. Wat by die werk gebeur, moet nie jou persoonlike gevoelens beïnvloed nie. Makliker gesê as gedaan.
  • Tyd vir mekaar. Dit is moeilik om oor iets anders as werk te praat wanneer jy wel die dag tyd saam af het, maar dit moet iewers begin. Dus moet ons doelbewus na onderwerpe buite die werk soek om oor te praat.
  • Tyd om iets saam te doen … Hmm. Nie seker hoe ons hierdie hekkie gaan spring nie aangesien ons skofte konstant bots. Voordeel. Ons is ses volle dae aaneen per maand af waar ons wel doen waarvoor ons lus het. Meesal. 🙂
  • Maak seker ons het doelbewuste goals wat ons teen die einde van die jaar wil bereik en tyd voor móét maak. Geen verskonings.

Klink haalbaar? Ek sal jou liewe leser later in die jaar moet inlig of hierdie plannetjies tog ten goede meewerk. 🙂

Vir nou. Dankie vir jou luister. Kyk uit vir die volgende boek. Hy verskyn hopelik binnekort.

 

C.O

Advertisements

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal kus studeer, voor ek teruggekom het Namibië toe. Ek het leeus en olifante teen die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en is ons in 2014 getroud. Na agt jaar in Windhoek, het ons uiteindelik na die roep van die natuur geluister en in 2019 die stad agtergelaat. Ons bestuur vandag 'n oord teen die Erongo berge, waar inspirasie my nog daagliks aanmoedig en ek die tyd wat ek kry gebruik om te skryf. Ons toer en kamp gereeld en nuwe inspirasie bly nooit ver agter nie. Ons hou daarvan om nuwe plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s