Proeseltjie: Ek vertrou jou – Ciska Olivier

Yvonne spring op, haar hart in haar keel en haar hand oor haar mond. Die besef dat dit net die skerp lig van buite is wat haar ’n oomblik verblind het is byna onmiddellik. Dit is nie Gert nie en tog is die man wat instap definitief ’n ouer weergawe van hom. Haar blydskap neem die wyk, net so vinnig soos dit in haar opgevlieg het.

Die man se doelgerigte stap weifel en twee donker wenkbroue trek saam.

Hy het heel moontlik haar reaksie gesien, dink sy ongemaklik en sluk. Sy bruin hare is in ’n kort, netjiese styl gesny en anders as Gert se verskoning van ’n baard wat maar yl aan sy wange sit, is hierdie man se kakebeen en bolip met ’n ligte kombers oortrek. Die olyfgroen katoenhemp span netjies om sy breë skouers en is opgerol tot net bo sy elmboë. Hy het ’n leerbandjie aan die linkerpols en in sy hand ’n donkerleer aktetas. Die ligblou denim sit gemaklik aan sy nou heupe en sy leerskoene lyk sag en gemaklik. Hy het definitief ’n ander styl as Gert, kan sy nie help om op te let terwyl sy weer opkyk nie.

Dit is twee baie reguit grys kykers wat hare vasvang en selfs bietjie laat ineenkrimp, so intimiderend is hulle. Daar is geen twyfel nie. Hy is Gert se broer. Die omgewingswet prokureur.

Hy kom voor die toonbank tot stilstand en een donker wenkbrou lig. “Middag.”

Sy sluk en moet haarself met mening regruk. Gert het nog nie veel van sy broer gesê nie, maar een ding weet sy wel en dit is dat die twee broers glad nie langs dieselfde vuur sit nie. Nog minder dieselfde siening in die lewe het. “Goeie middag. Hoe kan ek help?”

“Voorasnog om my in te boek.”

“Ek-ekskuus?”

“Voorlopig, dame. Jy kan my vir die oomblik net eers inboek. Daarna sal ek die onverkwiklike taak wat my opgelê is onderneem.”

Sy staar hom aan en kan nie keer toe ’n proeslag oor haar lippe borrel nie. Sy slaan haar hande oor haar mond.

“Jy bevind iets koddig?”

“Gert het nooit gesê jy is snaaks nie.”

Twee donker wenkbroue ruk tot amper teen mekaar en die donkergrys oë, indien moontlik, raak nog meer deurdringend. “So dis waaroor jy ’n oomblik so verruk gelyk het.”

“Jy sal vind, Kelvin – en ek raai jy is Gert se broer te oordeel aan die duidelik familiale trekke – dat ek maar ’n eenvoudige mens is wat eenvoudige taal verstaan. Groot woorde soos daardie,” sy skud haar kop. “Is nie in my woordeskat nie,” help sy hom parmantig reg.

Hy kyk haar nog enkele oomblikke fronsend aan, kyk dan na die gasteregister wat op die toonbank lê en skryf sy naam sonder ’n verdere woord in.

Sy loer daarna om seker te maak sy was reg en voel hoe die duiweltjie op haar skouer met ’n tikkie leedvermaak grinnik. Sy sal nie deur die man geïntimideer word nie. Nogal sulke groot woorde gebruik. Waar dink hy is hy? ’n Afrikaanse lektorsaal?

“Jy ken Gert as kollega of – ” hy kyk op en daardie donderwolk oë sak swaar op haar neer.

Sy sluk. Hoe wens sy nie haar oë was bietjie meer só grys as die ou vaal grou wat hulle wel is nie. Hy moet mense in hul skoene laat bewe as hy hulle so aankyk. Dat dit haar aan donderwolke laat dink, help ook nie.

“- is dit in die lyn van, wel, meer?” vervolg hy suggestief.

Skok trek deur haar en enige goeie voornemens wat sy gehad het om vriendelik te bly, neem die wyk. Sy trek haar skouers reguit en bal haar vuiste. “Ek is sy meisie,” antwoord sy uitdagend.

Kelvin ruk orent en sy weet sy glimlag dalk net bietjie te oorwinnend, maar sy kan dit nie verhelp nie. Die man dink verniet hy gaan haar skrik op die lyf jaag. Sy lig een wenkbrou, net om hom te wys hy skrik haar nie af nie.

“So jy is die nuutste flerrie.”

Dit voel of ’n bak yswater oor haar uitgegooi word en sy stik amper aan verontwaardiging en lig haar hande tot voor haar, haar vingers oopgesprei. “Excuse me?”

“Moenie dink ek ken nie jou soort nie,” sy oë sak na haar naamplaatjie en talm net bietjie langer op haar halslyn as wat betaamlik is. “Yvonne.”

Sy kners op haar tande. Sy is nog nooit so blatant verneder of al ooit vir ’n flerrie aangesien nie. Sy sal ook sterf voor sy enigiemand toelaat om so met haar te praat. “Jy, meneer Liebenberg, is geen beskaafde man nie. Ek verwag ’n verskoning.”

“’n Katjie met naels. Ek hou van katjies met naels. Hulle bied die grootste uitdaging.”

Sy voel hoe haar hare reis. “Soek jou eie pad kamer toe.” Sy gooi die kamersleutel op die toonbank neer en hou sy stormagtige oë met haar eie, wat sy hoop so uitdaging blink soos wat sy voel.

“Bly te kenne,” sy oë dwaal weer oor haar. “Yvonne.”

Sy voel hoe die bloed deur haar are skroei, maar voor sy hom enige wapens gee, storm sy weg. Waarheen, weet sy nie, maar enige iewers anders sal beter wees as in sy teenwoordigheid.

 

Koop joune hier by Lapa Uitgewers

of hier:

Advertisements

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal kus studeer, voor ek teruggekom het Namibië toe. Ek het leeus en olifante teen die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en is ons in 2014 getroud. Na agt jaar in Windhoek, het ons uiteindelik na die roep van die natuur geluister en in 2019 die stad agtergelaat. Ons bestuur vandag 'n oord teen die Erongo berge, waar inspirasie my nog daagliks aanmoedig en ek die tyd wat ek kry gebruik om te skryf. Ons toer en kamp gereeld en nuwe inspirasie bly nooit ver agter nie. Ons hou daarvan om nuwe plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s