Hartebrekers Kortverhaal: In ´n oogwink

Het jy al die Hartebreker reeks gelees? Hier is ´n kortverhaal wat by hierdie groepie mense inskakel. WAARSKUWING: Ek hoop jy het EK VERTROU JOU & HAAR HARTSBEGEERTE EN MEER klaar gelees, voor jy hierdie een lees. 😉

Geniet IN ´N OOGWINK

In ´n oogwink – Ciska Olivier®

Estelle val moeg op die bed neer. Die dag is verby. Dankie tog. Die vlug was lank en moeisaam en die kind in die ry voor haar ’n stoornis wat sy nie ook nog nodig gehad het nie. Nie met Alister se geneul en teregwysings in haar ore nie. Vir wat vat mense tog so ’n klein kind op ’n oorsese reis?

Sy voel hoe haar selfoon langs haar op die bed begin vibreer en kreun. Ag aarde tog. Kan sy nie net een aand van rus en vrede kry nie?

Dit hou op. Sy sug. Dankie tog. Nee, daar begin dit weer. Sy draai haar kop en loer tussen slierte van haar lang blonde hare deur na waar die selfoon met sy blinkende pers omhulsel lê. Moet sy regtig antwoord?

Ja, hoor sy haar agent in haar gedagtes praat. Dit is nog waarskynlik hy ook. Sy gryns en druk haar op haar elmboë. Het sy nie genoeg verbale aftakeling vir een dag gehad nie?

Sy sug. Dis die lewe wat sy gekies het en sy moet daarmee verlief neem, hoor sy hom verder in haar gedagtes praat.

Dis nie sy naam op die skerm nie. Haar verligting is oorweldigend. “Hallo?”

“Estelle,” roep ’n bekende stem in haar oor. “Haai, hoe gaan dit? Ek het nie gedink jy gaan antwoord nie.”

“Mariska. Goed en jy?” Sy glimlag. Sy het lanklaas met haar vriendin gepraat en haar nog langer laas gesien. Skielik voel sy sommer meer opgewek en sit regop.

“Voor die wind. Wel, nee, nie heeltemal so voor die wind nie. Ek het my vlug verpas en nou sit ek tot volgende week hier in die koue New York.”

“New York? Ek het pas van daar af teruggekom. Wat maak jy daar?”

“Regtig?” Mariska sug. “Ai. Ons kon mekaar dalk te siene gekry het. Ek het by my suster kom kuier.”

“Dit is jammer ons het mekaar gemis. Dis nou natuurlik as ek tyd gegun was. Dit was ’n vreeslike week. Ek is bly om terug te wees,” sê sy moeg.

“Ek kan glo. Jy is deesdae so besig dat geen mens jou meer in lewende lywe te siene kry nie. Dis net die glansblaaie wat met jou kan spog.”

“Ek weet en ek moet erken, ek raak nou sat daarvoor. Ek het ’n break nodig.”

“Regtig? Dis eintlik juis hoekom ek bel. Ek en Markus het ’n bespreking by ’n lodge buite Windhoek gemaak vir nuwe jaar, maar noudat ek hier sit, sal dit nie kan gebeur nie. Hy het ook nie lus om alleen te gaan nie, so toe wonder ek of jy van iemand weet wat sal wil gaan?”

“Nuwe jaar?”

“Ja.”

Dis oor twee dae, besef sy. Hoe het hierdie jaar nie gevlieg nie.

“Stel jy belang?”

“Ek wens ek kan, maar -.” Sy byt haar lip. Sy het afsprake. Verantwoordelikhede. ’n Voorafbespreekte party om by te woon. Haar agent sal nooit toelaat dat sy kanselleer nie en nog minder instem dat sy op so kort kennisgewing iewers heen gaan. Veral nie as hy die plek nie eers ordentlik deurgekyk het nie. Hy sal haar ook nie alleen laat gaan nie.

’n Roekelose duiweltjie kom klim op haar skouer. Verdien sy nie na vyf jaar om ’n slag iets te doen wat sy wil nie?

“Hoe lank?”

“Net een nag.”

“Weet jy wat,” besluit sy. “Ek sal dit graag aanvaar. Ek het nodig om bietjie uit te kom.”

“Briljant. Ek sal hulle laat weet en jou naam deurgee.”

“Nee,” keer sy haastig. “Ek eh, ek weet dit klink nou vreemd, maar hou dit onder jou naam asseblief? Ek wil nie onder my eie naam inboek nie.”

“Oukei. Ek kan jou seker nie blameer as jy vir een aand nie die bekende top model Estelle Koertze wil wees nie. Jy weet natuurlik dat enige iemand jou sal kan herken?”

“Ek weet, maar tot dit nie nodig is om dit te erken nie, sal dit gaaf wees om anoniem te bly. My agent gaan nie eens weet ek is daar nie.”

“Sjoe. Jy wil regtig wegkom.”

“Ja. Ek wil. Dankie, Mariska. Dis soos ’n antwoord op my gebede. Stuur net vir my jou bankbesonderhede en wat dit kos, dan betaal ek dit sommer nou oor,” gesels sy terwyl sy haar bene van die bed af swaai en na die deur toe stap waar sy haar skouersak sommer net langs die deur neergesit het.

“Nee wat. Sien dit as ’n Kersgeskenk.”

“Nee man.”

“Ja man,” dring Mariska aan. “Dit sal lekker wees om te weet ek het jou die break gegee wat jy kortkom.”

Sy glimlag. “Dankie. Ek sal dit absoluut die moeite werd maak. Wat is die plek se naam?”

“Boskloof. Dit is so twintig kilometer suid van Windhoek.”

“Oukei. Ek sal dit opsoek.”

“Awesome. Geniet dit en ons maak ’n plan om weer by mekaar uit te kom.”

“Ons sal moet. Laat weet wanneer jy ook terug is.”

“Ek maak so. Mooi dag, o wag, aand vir jou verder.”

“Dankie. Ek gaan nou ’n lekker bad water tap en dan in die bed val en slaap tot ek nie meer wil nie.”

Mariska lag. “Geniet dit.”

Die oomblik wat sy die konneksie verbreek, wonder sy wat de ongeluk sy dink. Alister kry ’n oorval as hy hoor wat in haar kop aangaan. Sy trek haar skouer op. Skielik gee sy nie so vreeslik om nie. Sy is moeg. Sy is afgerem. Sy is honger en sy gaan vir een dag doen wat sy lus het om te doen.

Sy kyk na haar spieëlbeeld teen die hotelkamer se kas. Die roomkleurige pakkie wat sag en vlyend om haar hang is nie meer so glad soos toe sy op die vliegtuig geklim het nie. Sy het haar hand ’n paar keer te veel deur haar lang blonde hare wat natuurlike lokke vorm gekam en dit begin wys. Onder haar ligblou oë begin die donker kringe van uitputting wys en sy het allesbehalwe lus vir ’n lang pamperlangsessie om dit reg te stel.

Sy skop die beige hoëhakskoene uit en haal die silwer kettingkies om haar pols en om haar nek af. ’n Oomblik staar sy na die hartjie aan haar hangertjie. Die laaste geskenk wat sy van haar ma ontvang het, voor sy die lewe gegroet het.

“Onthou dat jy kosbaar is. Niemand kan dit van jou ontneem nie,” was haar laaste woorde.

Sy trek haar asem diep in. Sy het dit begin vergeet. Sy blaas haar asem uit. Een nag is wat sy haarself gun om van dit alles af weg te kom. Een nag.

*

Haar hart klop benoud. Sy voel soos ’n dief in die nag, maar die bevryding wat dit ook meebring maak haar skoon lighoofdig. So asof sy te veel vonkelwyn gedrink het.

Sy is weg van Alister en al sy reëls en regulasies af. Haar selfoon is afgesit en hy kan haar nie in die hande kry nie. Sy het probeer kanselleer. Sy het haar kant probeer bring, maar hy wou nie hoor nie. Wou nie verstaan dat sy ’n blaaskans nodig het nie. Hy ignoreer haar versoek al maande en sy het nou net mooi genoeg gehad. Sy verdien ook ’n lewe.

So. Vir een salige aand kan sy doen wat sy wil. Eet wat sy wil. Kuier soos sy wil. Niemand het haar nog herken vandat sy vanmiddag hier aangekom het nie en dit laat haar skoon uitbundig voel.

Toe die son sy laaste strale agter die berg intrek, staan sy nog ’n oomblik op die dek van haar kamer hier hoog teen die voet van die berg en neem die landskap in. Sy trek haar longe vol van die skoon lug. Sy voel vry.

Sy luister na die natuur, kyk na die flonkering van die sterre wat een na die ander verskyn en wonder of sy nog lus het vir die lewe van ’n model. Is dit dalk tyd vir ’n verandering?

Sy draai om en stap die kamer binne. Vir vanaand nog gaan sy enige toekomsplanne vir die nuwe jaar los. Vanaand gaan sy net geniet wat die personeel vir hulle gaste beplan het. Môre sal sy weer oor haar lewe en wat vorentoe moet gebeur dink.

Sy maak op haar tyd klaar. ’n Weelde wat sy baie lank laas gehad het. Toe sy klaar gegrimeer het, gooi sy haar hare oor haar skouer en vryf oor die nousluitende rooi rok met sy oorkruis ontwerp terwyl sy opkyk in die breë badkamerspieël. Haar oë blink en die rooi lipstiffie wat sy aangesit het, pas haar vanaand perfek.

Sy voel anders. Meer lewenslustig en asof vanaand die begin is van iets nuuts. Iets groter as die nuwe jaar wat net anderkant twaalfuur lê. Sy voel dit in die lug om haar en sy kan nie wag om uit te vind wat dit is nie.

Buite op die dek waardeer sy eers weer die landskap wat silweragtig in die maanlig lê. Dis ’n wonderskone aand en sy kan nie glo dit het haar so lank geneem om uit die kettings van haar bestaan los te ruk nie.

Sy stap met die paadjie af restaurant toe en besef dat sy dalk te lank gedraai het. Musiek stroom by elke opening uit en dit klink of die partytjie al lankal begin het.

Sy word amper onderstebo geloop deur ’n jong man wat by die gebou uit warrel. Sy spring met ’n uitroep eenkant toe, maar val amper van haar stilletos af.

Hy vang haar. “Ag, ekskuus tog,” vra hy om verskoning, maar hy laat haar nie onmiddellik gaan nie.

Sy kyk op en voel hoe iets in haar tot stilstand kom.

Laggende bruin oë kom in hare tot rus. Lewenslus straal uit hom uit en toe hy skeef glimlag, voel sy hoe haar hart struikel.

“Haai.”

Sy knip haar oë uiteindelik en in daardie oogwink, besef sy dat haar lewe sopas verander het. “Haai.”

Hy laat haar stadig gaan. “Wil jy dans?”

“Jy was nie op pad iewers heen nie?”

“Ek was. Nou dink ek dat ek my eindbestemming raakgeloop het.”

Sy kan nie help om te glimlag nie. “O?”

Hy knik en sy hand gly teen haar arm langs. “Ek het my dansmaat ontmoet.”

“Ek?”

Hy glimlag weer. “Sal ons?”

Sy vat sy hand. Sy weet dit is malligheid, maar sy kan nie anders nie.

Terwyl hulle dans hou hulle oë mekaar heeltyd gevange. ’n Duisend gedagtes maal deur haar kop. Die grootste en onmoontlikste een is dat sy sopas die rede vir haar bestaan ontmoet het. Tog weet sy dit kan nie so maklik wees nie. Sy lewe in die regte lewe. Die een waar sprokiesverhale nie bestaan nie. Die een waar jy volgens die reëls lewe of jy word gebrand.

“Kom saam met my?” vra hy toe die musiek wegsterf.

“Waarheen?”

“Ek wil jou die sterre gaan wys.”

“Hulle is besonders helder hier buite in die natuur.”

“Nie so helder soos jou oë nie. Selfs die maan kan nie kompeteer met die glans in jou hare nie.”

Sy voel hoe sy bloos en dit laat haar verstom staar. Sy het op negentien laas gebloos. Kort daarna het sy haar eerste kontrak losgeslaan en was dit iets van die verlede. ’n Model kan nie skaam wees nie.

Sy volg hom woordeloos na buite en kyk op na die naghemel. ’n Ster verskiet en sy onthou al haar jongmeisie drome. Sy kyk na hom. Hy is lank en skraal. Sy oë vonkel in die sterrelig en die maan gooi strepe in sy kort bruin hare waarvan sy kuif regop gejel is. Haar vingers jeuk om aan sy wang te raak. Te voel of sy baard wat sag en donsig lyk, so voel ook.

Sy is sekerlik tog nie ernstig nie. Hierdie is wensdenkery, dwing sy haarself om uit die towerkrag te snap. Niks gebeur so vinnig nie.

“Jy is selfs mooier as wat ek gedink het.”

“Mooier as …” Sy voel hoe die betowering verflou en sluk. “Wat bedoel jy?”

Hy raak aan haar hare. “In die lig is jy wonderskoon, maar hier onder die maanlig.” Hy skud sy kop. “Jy is soos ’n nimf. Iets uit ’n feëverhaal.”

“Ek is allesbehalwe.”

Hy glimlag. “Dankie tog daarvoor. Anders verdwyn jy dalk voor ek jou nog kan soen.”

Haar lippe gaan oop. Sy is nie die enigste een wat in hierdie vreemde spel vasgevang is nie. Maar dis tog nie moontlik nie. Weet hy nie dalk wie sy is en probeer hy haar maar net beïndruk nie. Genoeg mans het haar al met mooipraatjies probeer verlei.

“Weet jy wie ek is?” glip die vraag oor haar lippe.

“Arwen.”

Sy skud haar kop. Sy het nie reg gehoor nie.

“Jy is Arwen en ek is Aragorn.”

“’n Liefde wat ’n ewigheid hou.”

“En deur niks gestuit kan word nie.”

Sy raak aan sy wang. “My naam is Estelle.”

Hy glimlag. “Gert.”

“Hierdie is nie moontlik nie.”

“Is dit onmoontlik?”

Sy dink daaroor. Sy weet reeds wat die antwoord is. Die kyk in sy oë is ’n weerspieëling van wat sy in haar binneste voel. Liefde met die eerste oogopslag? Hoe kan dit moontlik wees?

“Is jy bereid om te spring?”

Haar hart begin uitbundig klop. “Spring jy saam?”

Sy hande neem beide hare. “Binne ’n oogwink.”

 

***

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal kus studeer voor ek teruggekom het Namibië toe. Ek het leeus en olifante teen die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en ons is in 2014 getroud. Na agt jaar in Windhoek, het ons uiteindelik na die roep van die natuur geluister en in 2019 die stad agtergelaat. Ons bestuur vandag 'n oord teen die Erongo berge, waar inspirasie my nog daagliks aanmoedig en ek die tyd wat ek kry gebruik om te skryf. Ons toer en kamp gereeld en nuwe inspirasie bly nooit ver agter nie. Ons hou daarvan om nuwe plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s