Droomreis in ‘n tyd van Covid-19

Dis ’n vreemde gevoel. Skaars twee maande gelede was ons op die drumpel van ons opkomende verlof. Opgewonde het ons uitgesien na ons vakansie en kon ons nie uitgepraat raak oor wat ons alles gaan sien en beleef nie.

Die nuwe Coronavirus wat in China uitgebreek het en stadig na omliggende lande begin versprei het, het nie ons geesdrif gekelder nie. Met die WHO se skakel boaan my internet soeklys om ons konstant op hoogte van die situasie te hou, het ons op die vliegtuig geklim na Frankryk.

Wat ’n ongelooflike tyd was dit. Ons het kilometers op kilometers in Ducey, Nantes, Parys en Nice gestap. Ons het alles wat ons kon en hoofsaaklik wou beleef gedoen. Ons het dinge gesien wat ons nooit verwag het om te sien nie. Soos om te midde van ’n optog in Nantes te besef hoeveel onrustigheid daar tog ook buite Afrika is. Soos die Eiffel toring wat slegs as ’n tydelike monument vir die World trade fair in 1889 opgerig is, maar daar staan hy vandag nog. ’n Baken wat mense wêreldwyd lok. In Ducey het ons terug na ’n vorige tydgleuf gereis. Die dorpie self ’n historiese monument. Nice, die Franse Riviera se juweel. Van parfuum fabrieke tot bergtop kastele. Sy kobaltblou waters en wit kranse soos ’n prentjie uit ’n poskaart.

Dit was alles en meer wat ek gedroom het dit sal wees.

Maar deurentyd het nuus ernstiger begin raak. Die Coronavirus versprei en dele van Italië word gesluit. In Nice moes ons die ernstige besluit maak of ons die dae wat ons in Italië bespreek het gaan kanselleer of die kans waag. Na intense navorsing en oorweging, besluit ons om nie om te draai nie. Dit sal darem net te vreeslik wees om uiteindelik hierdie droom te bewaarheid, net om dit op te gee. Die spilpunt was die feit dat die virus hoofsaaklik in die Noorde onder kwarantyn is en soveel toeriste reeds gekanselleer het. Florence en Rome is hopelik nog veilig, maar ons sal ekstra versigtig wees. Geen nut daarin om die kans te waag en dan met ons lewens te boet nie.

Op die trein tussen Nice en Pisa was ons skaars vier passasiers in ons trein-kar. Wat ’n vreemde ervaring na die volgepakte treine wat ons tot op daardie punt in Frankryk ervaar het.

In ’n Toskaanse villa het ons soos koninklikes gevoel. Die groot hemelbed met sy swaar brokaat gordyne was soos iets uit ’n storie en tog was ons besig om dit te beleef. Olyfboorde, wynlande en glimpse van Italië se Roe deer het voor ons oopgevlek gelê. Na ’n volle dag in die Toskaanse platteland was my drome vervolmaak. Al wat oorgebly het was Rome en dan is my soekende siel vir eers versadig.

Dit was vreemd om te probeer dink hoe besig die romeinse stad sou wees as daar nie ’n virus was nie. Met so baie mense wat wel rondbeweeg het, was dit voorwaar nie verlate nie. Dit was vir ons ’n seëning, maar vir soveel ander ’n straf om die stad so ‘leeg’ te sien.

Ons voete was gedaan en ons lywe het vir rus begin smeek. As jy nie aan soveel aksie gewoond is nie, begin die bykans 130km wat ons oor die tydperk geloop het jou nogal aftakel.

In die vliegtuig op pad terug bespiegel ons Italië wat daardie oggend ’n reisverbod ingestel het. Hoe gelukkig ons tot dusver is, maar nou lê daar vir ons nog twee weke van self-isolasie voor. Ons gaan nie kanse teenoor ons geliefdes vat nie. Namibië het net die vorige dag sy eerste gevalle aangekondig en met ’n virus wat anders so maklik aanval en reeds soveel lewens geëis het, kan ons nie te versigtig wees nie. Ons is op pad Okavango toe vir die laaste deel van ons vakansie.

Min het ons geweet wat kom. Hier sit ons nou in ’n huisie by die see, nog genadiglik gesond, maar in ons vyf-en-sestigste dag vandat ons by die werk gery het. Ons is moeg gerus. Ons speel byna heeldag speletjies op ons selfone, iets waarvoor ons nog nooit tyd gehad het nie. Ons haal in op ons gunsteling sepies en het gelukkig ons aangenome swart kat wat ons vermaak.

Ons probeer positief bly en dink, maar onbewustelik was ons so styf soos ’n snaar gespan. Die spanning het uiteindelik in dag tien gebreek. Na ek so gelag het dat trane oor my wange geloop het, was ek gereed om agter my rekenaar stelling in te neem. Dis al byna ’n jaar vandat ek laas geskryf het. Tyd, lus en inspirasie was maar net nie daar nie. 2018 en 2019 was vir ons rowwe jare. Nou weet ek dat dit ons vir 2020 voorberei het.

My nuutste manuskrip het ek vanoggend 2:00 klaar geskryf. Dit voel goed. Ek is weer opgewonde en ek kan nie wag om met die volgende een te begin nie. Uiteindelik is dit ook tyd om weer op my blog te post.

Die vakansie is verby. ’n Droom van ’n leeftyd voel vreemd ver in die verlede, selfs al het ons bietjie meer as ’n maand gelede vanuit Europa teruggekeer. Ek is positief oor die toekoms. Want ek weet:

Even though I walk through the valley of the shadow of death, I will fear no evil, for You are with me; Your rod and Your staff, they comfort me. ~ Psalm 23:4

Dis ’n tyd van verandering. Van verbetering. En ek is gereed daarvoor. Hier waar ons nou ingeperk sit, is dit vir ’n goeie doel. Dis tyd om te besin. Tyd om te herontdek wat belangrik is. Tyd vir familie, vir onsself en vir ons God.

Bly veilig. Bly glo. En mag jy geseënd wees.

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

One thought on “Droomreis in ‘n tyd van Covid-19”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s