Vreemde draaie

Die lewe het die vermoë om vreemde draaie met ’n mens te loop. Ek is seker almal op aarde voel op hierdie oomblik of hulle in een of ander vorm van ’n weghol-trein, tollende rondomtalie of skuitjie in ’n groeiende onstuimige see is. Nie een van ons wil werklik aan ’n ander se probleem dink terwyl ons nou so vasgevang is in ons eie probleme nie. Sommige wonder, wanneer kan ek eendag weer werk toe gaan. Ander, waar gaan ons volgende bord kos vandaan kom. Ander neem van die situasie misbruik en buit mense op die slinksste maniere uit om hulle van hul ‘hard earned income’ te ontneem.

Ekself weet werklik nie meer wat om te dink of hoe hierdie situasie hom gaan uitspeel nie. Om baie eerlik te wees, ek het my hierdie afgelope week totaal onttrek van al die negatiwiteit en onsekerheid wat om ons woer-woer. ’n Mens kan net soveel om jou inneem voor jy van binne af begin sweer.

Ek is ’n positiewe mens van nature en glo dat alles vir ’n rede gebeur. Dat dinge sal uitwerk soos dit moet en dat as iets nie vir jou gebeur nie, dit nie so bedoel was nie. Ek is oortuig daarvan dat hierdie afgelope drie jaar van beproewings vir my en my man voorberei het. Nooit sou ek dink (Hel, ek dink nie iemand sou hierdie situasie kon uitdink nie!) dat ek en my man gelyk ons werk gaan verloor en dat ons nou fyn moet beplan en versigtig werk met die spaargeld wat ons darem gelukkig in die bank het. Alles was dan so mooi beplan en in plek … en oornag verander die hele situasie.

Jy weet, my grootste kommer is nie eens vir onsself nie. Ja, ek is ernstig bekommerd en bid daagliks kliphard dat daar vir ons werkies gaan inkom hier waar ons nou in Hentiesbaai sit (weer in ’n lockdown weens … wel, ek weet nie eens eintlik meer hoekom ons nog in ’n lockdown is nie. Ek weet hoekom dit nodig is, maar niks word daardeur gebaat nie, inteendeel, mense raak opgewerk en maak nou juis meer ondeurdagte besluite. Mense, ons land is nie gereed vir ’n volskaalse pandemie nie! So sit asseblief jou masker aan en respekteer mekaar en almal om jou – jy insluitende – se gesondheid! Hoekom is dit so moeilik om te verstaan? Of dalk is die groter vraag: Is jy gereed om dood te gaan, siende dat jy so min respek vir almal om jou het?)

Ja, ek is besig om kwaad te raak en gefrustreerd en ek is seker daar is hordes ander wat dieselfde voel, want vir een of ander rede is ons mensdom blykbaar ten spyte van ons slimheid, maar verskriklik dom! Domastrant. Domonnosel. Dom. Dom. Dom.

Ek sug diep, want ten spyte van hierdie woede, gefrustreerdheid en onsekerheid oor die toekoms is daar net mooi niks (behalwe om my klein deeltjie te doen) wat dit gaan verander nie. Mense val mekaar op Facebook aan oor die simpelste dingetjies. Is dit werklik nodig? Wat wen jy daaruit? Wat het van die sêding geword: As jy niks goeds het om te sê nie, sê eerder niks.

My uitbarsting nou daar gelaat. My grootste kommer? Ons families. Ons vriende. Almal is in die knyp. En nie net van gister of eergister of vyf maande gelede nie. Nee, dit kom ook al ’n lang tyd aan. Die ekonomie en die droogtes is besig om almal leeg te suig. Waarheen van hier af? is sweerlik die gedagte wat die meeste deur ons almal se gedagtes gaan.

So waarheen van hier af?

My go to frase: Bly glo, bly bid, bly vertrou.

God kyk na sy kinders en solank ons in daardie wete en vertroue vasstaan en ophou twyfel aan Sy vermoëns, sal alles ten goede meewerk. Ek bid hierdie woorde ook vir jou vandag. Mag Sy beskermende hande ook vir jou en jou geliefdes veilig hou en bewaar.

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

4 thoughts on “Vreemde draaie”

      1. Dit is goeie nuus! My man het ook sy werk verloor, maar het nou ‘n alleenstaande fasiliteringsopdrag van die maatskappy. Hierdie maand sal daar darem n inkomste van n aard wees. Twee maande niks voel erg vreemd, maar jy sal verstaan 🤦🏼‍♀️

        Liked by 2 people

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s