’n Skuitjie in die oseaan

Ek hou van uitdagings. Iets wat my besig hou. My brein stimuleer. My aan die dink en beplan hou.

Ek is seker daar is baie mense wat gaan sê dit is vanselfsprekend. Baie mense wat sal sê dis mos hoe dit moet wees. Daar is ook ander wat sal verkies om dit nie so te hê nie.

Ons almal verskil. Ek het al dikwels gevoel en gewens ek kan net bietjie rustiger wees. Dinge stadiger vat. Dat my dag net bietjie stiller sal wees. Covid-19 het dit vir meeste van ons moontlik gemaak om te sien en te voel presies hoe dit voel om ‘stil en rustig’ by die huis te moet sit en wag.

Dit is frustrerend. Uitmergelend. Daar was niks ‘stil en rustig’ daaraan nie. Nie toe die probleme werklik begin nie. Dit het my uitgeput en ontneem van entoesiasme, van inspirasie. Dit was horrible. Nie net omdat ons nie werk toe kon gaan nie, maar ook omdat ek en my man ons werk verloor het. Ons is skielik ’n drywende skuitjie in ’n oseaan waarvan die golwe al hoe meer dreigend aanrol. Jy voel of jy gaan sink, maar jy weet ook dat jy ten alle koste hierdie bootjie teen die aanslae moet beskerm. Jy moet planne maak. Water uitskep en beskerming bou teen die groeiende storm.

Niks gebeur maklik of vinnig in hierdie lewe nie. Ek is hard werk en lang ure gewoond. Om met idees vorendag te kom was maklik, dis die wag vir iemand om ’n spreekwoordelike boei uit te gooi sodat jy kan begin werk, wat jou tot op die nerf ontsenu. Almal sukkel op een of ander wyse in hierdie onseker tyd.

Ons is gelukkig. Ons skuitjie was redelik stewig met die uitset van hierdie vaart. Voorsiening het ons van ’n gewisse ‘waterdood’ gered. Ons is nog drywend. ’n Tweede boot het op ons horison verskyn en ons is tans teen dié geanker. Die waters is nie meer so rof nie. Helderder denke het ook inspirasie saam gebring. Ek sien weer uit na die dag. Let wel, ek sien uit, ek vat dit nie meer net soos dit kom nie. Ek dink dit is geweldig belangrik. Jy moet uitsien na iets om dit die moeite werd te maak.

Ek is opgewonde. Inspirasie is besig om terug in my are te kruip en dit maak my opgewonde. Nog ’n nuwe idee het by my kom aanklop en dit het my in ’n ekstatiese toestand, want dis iets wat ek geniet om te doen. Iets wat dalk werklik aftrek sal kry. Ek voel weer die genot van uitdagings. Die vooruitsig van my brein wat besig raak met beplanning.

Dit het nie maklik gekom nie. Ek was traag om na my ou aktiewe self terug te keer. Na maande van ydel ‘rondsit’ en wag vir iemand om oor ons pad te kom doen dit aan ’n mens. Jy probeer jouself tot aksie forseer. Jouself uit die put waarin jy begin afsak het te trek. En dit is nie maklik nie. Ek het soveel begrip met elkeen wat op die oomblik dieper in daardie bodemlose put wegsak. Hoe keer jy depressie? Hoe keer jy lewenskrag wat uit jou wegvloei? Hoe maak jy jou oë in die nuwe dag oop en stel jouself gerus dat dinge sal beter gaan. Een of ander tyd. Dit terwyl jy geen lig aan die einde van die tonnel kan sien nie?

Dis moeilik. Dis hard. Dis ’n onbenydenswaardige posisie.

Ek kan nie voorgee dat ek die antwoorde het nie. Ons elkeen is in ons eie stryd gewikkel. Wat vir my werk, werk nie noodwendig vir die volgende persoon nie. Ek het besef ek moet self hier uit. Ek en my man. Want ons was besig om ons binneste met swart ondeurdringbare modder op te vul. As jy eers daar vasval, dan is die uitkom ’n duisend maal moeiliker.

So ek het harder, ernstiger begin bid. Ek het raad begin soek. Ek het myself aangemoedig om weer te begin uitsien na die dag. Een treetjie op ’n slag. Ek het hierdie ‘helpguide’ webblad raakgesoek en na weke voel ek weer soos my ou self. ’n Enkele tree daagliks het ons weer nader aan verbetering gebring. En wanneer optimistiese inspirerende gedagtes net eers weer begin vloei, raak die pad makliker. Ek is dankbaar. Want te midde van hierdie storm, sien ek weer die naderende sonsopkoms. En ek is seker dit gaan asemrowend wees.

Ek hoop dat jou roete ook reeds verbeter het, jy die krag sal kry om dit aan te pak, of die hoop sal kry wat jy vandag dringend nodig het.

Mag hierdie hulpgids dalk vandag vir jou ook van waarde wees. Hou aan roei. Hou aan hoop. Hou aan bid. Die storm kan nie vir ewig aangaan nie. En onthou, ons word gevorm deur die swaarkry. God is altyd by ons. As jy terugkyk oor die strand en net een ry spore sien, dis oor Hy jou gedra het, dis nie jou spore wat alleen daar lê nie.

Kikker jou dag op met hierdie lied van Rachel Platten: https://www.youtube.com/watch?v=xo1VInw-SKc

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

4 thoughts on “’n Skuitjie in die oseaan”

  1. Dit was goed om hier by jou te lees, Ciska. Jy laat my wonder oor die ‘uitsien na iets’ konsep. Ek gaan daaroor dink, want op die oomblik probeer ek glad nie aan die toekoms dink nie, en dit gaan goed met my.

    Liked by 2 people

    1. Ek is bly. 🙂 Ek lewe tot ‘n mate ook eintlik so bietjie in die oomblik op hierdie tydstip, maar dis werklik lekker om tog ook weer uit te sien na iets. Ek was die laaste paar dae besig met my nuwe webblad vir die kombuis en dit was so lekker, want ek sien werklik uit na die moontlikhede wat dit kan skep. Die kokery het my boonop inspirasie gegee vir een van my volgende karakters.

      Liked by 1 person

  2. Dankie! Dit het sowaar lank genoeg gevat om weer een te publiseer. Tyd en werk was ongelukkig nie verlede jaar my vriend nie. Ek wag nou in spanning om terug te hoor van Lapa oor die volgende een in die reeks terwyl ek aan die derde een werk.
    Laat weet wanneer jy haar gekry het. Ek hoor graag terug van lesers.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s