2020 in oënskou

The best things in life are the people you love, the places you’ve been, and the memories you’ve made along the way.

Dit was my Instagram post gisteroggend. Met die vraag, hoe lyk 2020 vir jou in oënskou op die vooraand van 2021?

Myne. 🙂 Wat ’n jaar. En alles het so rustig en normaal begin by ons werk langs die Erongo berge. Soos ek hier sit en skryf voel ek gelukkig. Ja die jaar was lank en vol ontberings, maar dit was ook goed. (Daarom dink ek ook die gekleurde toiletpapier wat ons in Parys gesien het is ‘n goeie pun om 2020 te beskryf.)

Jy gaan dalk stry, maar moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek kan aan al die negatief vasklou, maar vir wat? Wat gaan dit my in die sak bring? Ek kies om die goeie te onthou in ’n jaar wat vir almal verandering gebring het. Selfs al het dit só gelyk:

Januarie geniet ons ’n familiekuier op die plaas en met die teruggaan gee ons ons visa aansoeke in vir ons jaarlikse verlof wat einde Februarie geskiet.

Die toer waarvan ek op skool reeds gedroom het en waarvoor ek die laaste paar jaar begin spaar het sedert Krummelpap in Parys verskyn het, het einde Februarie gerealiseer. Frankryk en Italië. ’n Droomreis.

Selfs al was dit op die vooraand van totale chaos vir die wêreld, was dit elke tree, elke sent en elke onseker oomblik werd. Selfs toe ons enkele ure voor Italië in totale lockdown ingegaan het uit is, ruil ek dit vir niks.

’n Nuwe moontlikheid wag vir ons met die terugkeer. Ons oorweeg saam met vriende om ’n klein plekkie langs die rivier te koop en die akkommodasie en kampplek wat reeds bestaan op te bou na een van die vakansieplekke om te besoek – toe gebeur lockdown. Vlugte word gekanselleer. Toerisme vou. Daarmee saam ons droom, want ons weet. Ons ken die bedryf.

En ons wag in spanning, want dit beteken ons werk is ook in gedwang.

Junie begin ons werklike nuwe uitdaging. Ons is ons werk kwyt, maar met genade het ons ’n dak oor ons kop en genoeg spaargeld in die bank om ’n ent weg te oorleef. Ons is vindingryk en nie bang vir werk nie en ’n geleentheid lê voor ons.

Niks gebeur oornag nie, maar uiteindelik kry ons ons eerste kliënte en ons begin weer asem haal.

Ons vermy die nuus en alles wat daar buite aangaan. Dit maak ons net depressief. Bly eerder afgesonder en besig. Beskerm jouself en sodoende ander.

Die laaste naweek in Oktober ontsnap ons uit ons omgewing en ons onseker gedagtes en besoek vir die eerste keer die kleinste bierfees in die land. En tyd saam met familie en nuwe vriende bring weer kalmte in ons gemoed. Namibië was gelukkig. Getalle is minimaal, tog bly ons versigtig. Dis dwaas om nie versigtig te wees nie.

Ons hoor en sien wat alles daar buite aangaan, maar jy luister versigtig. Sif deur al die pofnuus en bangmaakpraatjies. Soek die waarheid, hou onsself eenkant, ons ken buitendien amper niemand hier nie. Dis oukei, ons het mekaar en dis heerlik om die eerste keer in meer as ’n jaar weer soveel tyd saam te spandeer.

Inspirasie keer terug en ’n nuwe boek neem gestalte aan. Word klaar geskryf in die tyd wat ek hoor nog ’n baba gaan die lig sien. Ek word verras met ’n boekpraatjie en ’n nuwe vriendekring ontstaan onder skrywers. Ek word deel van ’n groep mense wat ek verstaan en wat my verstaan. Dis iets wonderlik wat ontstaan a.g.v afsondering.

Dis goed. Dit gee my moed. Dit wek nuwe vooruitsig en inspireer my om die volgende reeks te begin beplan. Dis lekker om weer te skryf.

Tog voel dit of die woorde nie maklik kom nie. Daar is te veel goed wat in my kop aangaan.

Die jaar begin afloop. Dis amper Desember. ’n Tyd van feesviering. Familietyd. Vakansietyd. Hierdie jaar gaan vir baie mense anders lyk.

Ons ontsnap na die see. Kamp ’n nag uit en voel hoe kalmte weer kom nesskop. Ons ry uit vir die dag en al in die Omaruru rivier langs. Die natuur is goed vir ’n mens. Ek voel hoe die natuur se rustigheid in my kom lê. Tog is daar dae wat ’n storm in my losbars. Wat die golwe hoog en onstuimig is.

Ek dink glad nie aan 2021 nie. Ek sien nie uit daarna dat die jaar verby moet gaan nie. Ek lewe net. Dag vir dag. Ek besef dat die jaar se einde gaan nie ’n verskil maak nie. As 2020 verby moet gaan … Heng, dit voel al of die jaar ses maande gelede verby was. Ek sê gereeld ‘verlede jaar’ net om te besef, ‘nee, dit was nog in hierdie jaar’.

En dan vra ek. Hoekom moet ons die jaar om wens? Wat gaan ’n nuwe jaar meebring? Verligting? Gaan alles sommer skielik op Oukersaand agterbly wanneer die horlosie 00:00 lees?

2020 het ons almal omver gewerp. Daar was baie swaar tye. Baie mense het in hierdie jaar verdrink. Baie mense het geliefdes verloor. Baie mense besef nog nie hulle boot is besig om te sink nie.

Dis hartseer. Maar dit is ook die verloop van die lewe. Ek het vrede daarmee gemaak. Jou tyd is bepaal. Myne ook.

Ek lees iemand se Facebook plasing en dit bring hierdie hele besef terug. Hoekom wens ons die jaar om? Daar was dan soveel goeie herinneringe ook? Hoekom is ons so geneig om tyd om te wens? Hoekom besef ons nie hoe kosbaar dit is nie? Net omdat dit met jou sleg gegaan het, gun jy niemand anders geluk nie? Net omdat dit met jou goed gegaan het, sien jy niemand anders se swaarkry raak nie? Wie dink ons is ons om niemand om ons iets te gun as ons dit nie self het nie?

Ek het twee wense vir 2021 wat voor die deur lê:

1, Mag selfsug nie vatplek in jou hart kry nie.

En 2, Mag jy elke wonderlike kosbare oomblik waardeer. Tyd is immers net geleen.

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s