Ek gesels met ‘n leser

Daar is baie gesprekke met skrywers, maar wat van die leser en hulle perspektief?

As aktiewe leser verskil my oogpunt, verwagtinge en voorkeure dikwels van die volgende persoon. As skrywer moet ek aan die leser en hierdie verwagtinge dink en wil ek graag meer van hulle weet. Dus het ek lesers genooi om hul perspektief met my te kom deel.

My eerste gas het ek in my tienerjare in die Kalahari ontmoet toe sy ons buurvrou geword het. Alhoewel ons mekaar net by geleentheid sien, is sy altyd vrolik en vol lewenslus, ongeag wat die lewe na haar kant toe gooi. Sy het ook een van my grootste aanhangers geword en ek geniet dit altyd om met haar te gesels.

  • Wat is jou naam?

Ek is gedoop Jacoba Jacomina, maar almal noem my sommer Kanarie du Plessis.

  • Hoe oud is jy of in watter ouderdomsgroep val jy?

In vlees is ek al 67, maar in gees sal ek altyd 30-iets wees.

  • Waar woon jy?

Mariental, Namibië, op ’n besproeiingskema.

  • Watse werk doen jy of het jy gedoen?

Ontvangs was maar my voorland, maar die laaste paar jaar sien ek om na my bejaarde moeder van 92.

  • Is romanse jou gunsteling genre?

Beslis, dit bring bietjie kleur in my andersins vaal dag tot dag bestaan.

  • Hoekom geniet jy romanses?

Dit maak gedurig nuwe deure van wêrelde en tye oop en vat jou weg op ’n towertapyt van verbeeldingsvlugte.

  • Wanneer jy voor ’n rak vol romanses staan, hoe kies jy watter boek(e) jy koop? (Is dit die skrywer, voorblad, agterbladteks, eerste bladsy, laaste bladsy, ’n kombinasie?)

Die voorblad moet definitief my aandag trek en die agterbladteks moet my nuuskierig maak oor die inhoud van die boek.

  • Is daar ander genres wat jy geniet? Hoekom?

Ek het ’n wye veld van leesstof belangstelling, maar my gunstelinge bly fantasieë, speurverhale en romanse. Dit boei my verbeelding.

  • Lees jy net Afrikaans of lees jy ook Engels?

Net Afrikaans. Dit bly maar my moedertaal.

  • Papier of e-boek of beide?

Papier! Of dit die kraak van nuutgedrukte boeke is, die stof en vat deurdrenkte bladsye, of die saggies en versigtig se hantering, verkies ek papier en is die storielyn ’n verrassing op elke omblaai van ’n blad.

  • Bly jy wakker om ’n boek klaar te lees, of is dit maklik om ’n boek teen slaaptyd neer te sit?

Dit hang af van die storielyn, maar 99% van die tyd raak ek sommer so in die lees aan die slaap.

  • Wat lees jy op die oomblik?

Marta geskryf deur JRL van Bruggen. Gedruk 1940. Ek is baie lief vir hierdie óú boeke, die taalgebruik is baie interessant.

  • Hoe gereeld lees jy?

Elke dag.

’n Paar vrae oor my boeke:

  • Hoeveel van my boeke het jy al gelees?

Almal

  • Het jy ’n gunsteling?

Dubbel die moeilikheid en Anna se man

  • Wat geniet jy van my stories?

Die onnutsigheid en humor.

  • Is daar iets wat jy dink kan verbeter of wat jou nie aanspreek nie?

Nee wat, jou stories is altyd mooi en dit laat my wens ek is die hoofkarakter.

Ander skrywers:

  • Watter ander romanse skrywers se werk geniet jy, of wie is jou drie gunsteling skrywers?

Ena Murray, Francine Rivers en Karen Kingsbury

  • Is daar iets waarvan jy meer sal wil sien in romanses?

Nee, dit wat daar is geniet ek terdeë.

  • Is daar iets waarvan jy minder sal wil sien in romanses?

Nee wat.

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s