Wanneer roomys in die vrieskas smelt

Ons is gewoond aan koel mistige dae. Soms het jy ’n paar sonskyn dae, maar selfs dan is dit koel. En dan is daar oosweer. Dit is gewoonlik wanneer die res van die land met winterweer omhul is. In 2020 het die Namibiese kus ’n rekord gehaal met byna twee maande se ononderbroke oosweer. Dit was volgens verskeie bronne vyftien tot twintig jaar gelede laas so erg. Met oosweer is daar verskillende ervarings. Eerstens is dit die hitte. Tweedens die stof. Derdens en net per geleentheid die erie rooibruin stof (Hooffoto) wat alles omhul en stadig om jou neersif.

Met oosweer maak jy alles so dig as moontlik toe en jy skakel die waaiers aan om te probeer afkoel. Oosweer wanneer die res van die land winter het is leefbaar. Rede: die wind kom warm hier aan, maar ten minste is dit koud in die binneland, so dis net soos ’n somersdag in die binneland.

Oosweer in die somermaande?

Dit laat die roomys selfs in die vrieskas smelt! Nee, regtig. Oukei, oukei ek bieg, die vrieskas by die winkel het die gees gegee. Dit maak dit soveel erger. Geen roomys is beskikbaar by ons algemene supermark nie. Hoe oorleef jy 40 °C sonder roomys?! Jip, dis wat oosweer in April meebring. En onthou, hier is nie aircons by die see nie. Wel, nie sommer nie. Hoekom sal hier wees? Dis dan 10 tot 11 maande van die jaar heerlik koel tot koud.

Dankie tog! Daar is nog ’n winkel. En hulle het roomys. Selfs al sukkel hulle vrieskassie ook om hierdie dreinerende hitte teen te staan en te keer dat die roomys in milkshakes ontaard.

Ek en manlief eet nie baie gereeld roomys nie. O, ek is gek oor roomys – saam met waatlemoen is dit een van ons Oliviers se gunsteling snoephappie – maar dis nie asof ons dit elke week eet nie. Ek koop miskien elke tweede maand ’n 2L bak van ons gunsteling geur. Manlief is nie groot op poeding nie. Ons sal meer gereeld ’n plak sjokolade tussen ons opeet as iets anders. Nie hierdie week nie. Ons het twee 2L bakke roomys gepolish. Daar is niks beter om jou te help afkoel as ’n bakkie yskoue (vinnig smeltende) Caramel, chocolate & vanilla of Rum & raisin roomys nie. Terwyl jy van buite af smelt kry jy brainfreeze van binne, maar wie gee om. Dis 40 °C buite en die vensters en deure is almal toe om die hitte en stof uit te hou terwyl die waaier die warm lug hier binne oor en oor sirkuleer.

Miets kla. Sy wil uit, maar as sy haar neus by die ruit of deur uitdruk wanneer ons haar klaagliedere antwoord, is sy woerts terug op die bed voor die waaier of uitgestrek op die teëlvloer wat bietjie koelte vir haar swart lyfie verskaf. En dis hoe ons maar die oosweer trotseer.

Published by

ciskaolivier

Ek woon in Namibië en is 'n plaaskind vanuit die Kalahari. Na skool het ek as veldgids en gasteplaasbestuurder in Suid Afrika se bosveld en Natal se kus studeer voor my terugkeer het na Namibië. Ek het leeus en olifante in die Etosha park trotseer en ook later die hoogste duine in Sossusvlei aangedurf. Ek het in my eie wêreld van lees en skryf geleef tot ek uiteindelik my eie storieboekheld ontmoet het. Hy het my hart soos ’n ware heer van ouds kom oorwin en in 2014 is ons getroud. Ons is lief vir toer en kamp gereeld. Dis hier waar nuwe inspirasie dikwels kom aanklop. Ons hou daarvan om plekke te ontdek en probeer om met elke vakansie ten minste een nuwe plek op ons ‘bucket list’ af te merk. My man is my grootste ondersteuner en ons huwelik is vir my die pot goud aan die einde van die reënboog. Een waaruit ek daagliks inspirasie put. Ek skryf liefdesverhale, want ek is 'n absolute sucker vir romanse en liefde wat alles oorwin. Wat kan dan ooit sterker wees as ware liefde?

One thought on “Wanneer roomys in die vrieskas smelt”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s