Wanneer roomys in die vrieskas smelt

Ons is gewoond aan koel mistige dae. Soms het jy ’n paar sonskyn dae, maar selfs dan is dit koel. En dan is daar oosweer. Dit is gewoonlik wanneer die res van die land met winterweer omhul is. In 2020 het die Namibiese kus ’n rekord gehaal met byna twee maande se ononderbroke oosweer. Dit was volgens verskeie bronne vyftien tot twintig jaar gelede laas so erg. Met oosweer is daar verskillende ervarings. Eerstens is dit die hitte. Tweedens die stof. Derdens en net per geleentheid die erie rooibruin stof (Hooffoto) wat alles omhul en stadig om jou neersif.

Met oosweer maak jy alles so dig as moontlik toe en jy skakel die waaiers aan om te probeer afkoel. Oosweer wanneer die res van die land winter het is leefbaar. Rede: die wind kom warm hier aan, maar ten minste is dit koud in die binneland, so dis net soos ’n somersdag in die binneland.

Oosweer in die somermaande?

Continue reading Wanneer roomys in die vrieskas smelt

‘n Sirkel is voltrek

Dis amper drie jaar sedertdien ons gerieflike bekende omgewing rondom ons begin kantel het. Vreemd hoe gerieflik mens kan raak. Hoe vanselfsprekend jy dinge aanvaar. Wel, dis nou al bietjie meer as twee jaar en ons trek vir die vierde keer na ’n nuwe tuiste … Hierdie keer sien ons egter baie uit na die toekoms wat vir ons lê en wink. Hierdie skrywer gaan uiteindelik ’n boervrou word. 🙂

Ek gesels met ‘n leser

Daar is baie gesprekke met skrywers, maar wat van die leser en hulle perspektief?

As aktiewe leser verskil my oogpunt, verwagtinge en voorkeure dikwels van die volgende persoon. As skrywer moet ek aan die leser en hierdie verwagtinge dink en wil ek graag meer van hulle weet. Dus het ek lesers genooi om hul perspektief met my te kom deel en nooi ek ook vir jou om my te nader vir die onderhoud.

Vandag gesels ek met ‘n vrou wat hopelik altyd sal aanhou droom.

Continue reading Ek gesels met ‘n leser

Uitstel is nie noodwendig afstel nie

Ek het hierdie week ‘net ontspan’. Nie letterlik nie. Ek het net nie hierdie week geskryf nie. Ek het net vir ’n paar dae die karakters ’n rusperiode gegee. Ek moes eers weer my eie creative juices aanvul. Dis nodig. Enige kunstenaar weet dat jy soms nodig het om net iets anders te doen. Ek het ’n hele reeks van my gunsteling Engelse skrywer se boeke verslind. Ek het konfyt gekook. Ek het die huis van bo tot onder skoongemaak. Ek het gedink. Ek het beplan. Ek en my man het gepraat. Ons het beplan. Ons het moontlik ’n nuwe rigting wat ons binnekort weer inslaan. Ons wag in spanning om te hoor wat gebeur vorentoe. Ek is opgewonde. Vir die eerste keer in ’n lang tyd is ek weer opgewonde. Hy ook. Dis ’n nuwe vooruitsig. ’n Nuwe uitdaging. Een wat ons wil doen, nie iets wat ons moet doen nie.

Ek het hierdie week tyd geneem. Tyd om dinge te oordink. Tyd om my binneste weer te ondersoek. Tyd om te gaan kyk, waar lê my kreatiwiteit en hoekom sukkel dit so om lewendig te bly. Practice makes perfect. Ek weet darem nie. Ek dink, practice keeps you going towards making it perfect. Of so iets. Daar is ontvlugting in boeke. Dit geld nie soseer in skryf nie. Ek weet vir baie skrywers doen dit, maar nie vir my nie. Ek kan nie my persoonlike omstandighede losmaak van my skrywerspersona nie. Ek is nie seker ek wil nie. Ek moet. Een of ander tyd. Dis iets wat ek sal moet aanleer. Maar vir nou. Vir nou neem ek ’n oomblik en wag opgewonde om te sien wat gaan kom.

Ek gesels met ‘n leser

Daar is baie gesprekke met skrywers, maar wat van die leser en hulle perspektief?

As aktiewe leser verskil my oogpunt, verwagtinge en voorkeure dikwels van die volgende persoon. As skrywer moet ek aan die leser en hierdie verwagtinge dink en wil ek graag meer van hulle weet. Dus het ek lesers genooi om hul perspektief met my te kom deel.

My eerste gas het ek in my tienerjare in die Kalahari ontmoet toe sy ons buurvrou geword het. Alhoewel ons mekaar net by geleentheid sien, is sy altyd vrolik en vol lewenslus, ongeag wat die lewe na haar kant toe gooi. Sy het ook een van my grootste aanhangers geword en ek geniet dit altyd om met haar te gesels.

Continue reading Ek gesels met ‘n leser

Los gedagtes

My gedagtes is ‘n warboel deurmekaar flentertjies. Ek sit dikwels en dink lank en diep oor dinge. Die afgelope tyd is dit net asof niks konkreets in my gedagtegang kom vassit nie. Miskien is dit al die verandering. Miskien wil ek nie nou te diep oor dinge dink nie. Miskien moet ek tot stilstand kom en ‘n slag net weer hoor wat alles in my kop aangaan.

Ek is besig om ‘n tuinhoekie te beplan. My man bou bokse en plant blommetjies, want ek soek ‘n hoekie waarheen ek kan wegbreek en waar ek my siel kan voed. ‘n Hoekie waar ek kan sit en lees of skryf. Waar ek sommer net kan sit en na die voëltjies luister terwyl ek ‘n beker koffie geniet. Ek smag al lank na so hoekie.

Miskien is dit presies wat ek nodig het om weer sin te maak van die warboel in my kop. ‘n Hoekie om my eie te noem. Ingerig soos ek daarvan hou.

Die laaste twee jaar was ons swerwers. Altyd inwoners van iemand anders se huis. Dis tyd om my stempel op my omgewing af te druk en weer tuis te voel in my eie omgewing.

Ek dink die tuinhoekie is die perfekte plek om te begin.

‘n Nuwe rigting is bepaal

’n Storie brand in my, maar dis nie die een waarmee ek besig is nie.

Vir weke sukkel ek al om op dreef te kom met die nuwe reeks. Dit gaan ’n lang reeks wees. Ses boeke. Twee families. Vyf susters, drie broers, ’n verlore familie-lid, en drie buitestaanders. Maar die storie wil net nie vloei nie. Ek weet presies wat moet gebeur. Die beplanning is reg en agtermekaar, maar die skryf daarvan wil net nie op dreef bly nie.

Saterdag kruip ’n storie-idee wat ek lankal reeds noteer h’et in my kop en die een na die ander toneel spring by my op. En ek besef dis tyd om daardie storie eerste te skryf. Ek soek iets wat op ’n ligter trant gebeur. Daar is soveel onsekerheid in die wêreld op die oomblik en ek besef. Dis hoekom ek met my Soetwater susters sukkel. Hulle het ’n vete wat aan haat grens en ek is nie op die regte plek om daaroor te skryf nie.

Ek soek iets op ’n ligter trant. Twee ander stories wat ook lankal reeds wag om vertel te word skakel pragtig in by hierdie nuwe dog ou idee. Iets wat my en uiteindelik die lesers uit ons huidige omstandighede gaan neem en gaan laat lag. Iets wat hulle ontvlugting gaan bied, selfs al speel dit in ’n inperkingstyd af. Want wat is dan beter as om na die Kalahari te ontvlug en te ontdek dat dit waarvan jy weghardloop eintlik dit is wat jy in jou lewe nodig het.

Drie stadsmeisies. Drie pare stilettos. Drie plase in die Kalahari. Drie uiteenlopende mans.

Een doelwit. Liefde.

2021

Niks het werklik verander nie. Dis slegs ’n nuwe maand. ’n Nuwe jaartal. Maar daar was tyd vir familie. Vir vriende. Versigtig en almal op hul hoede vir die leeu wat oopbek rondloop en slagoffers soek, het ons die sanitizer saamgedra. Ons afstand en kontak met mense tot die minimaal gehou. Die skild was in plek en nou getrek om ons groepie. Dit het ons ook goed gedoen om weer tyd saam met ons mense deur te bring. Ons sien hulle deesdae maar min.

Saam met die nuwe jaar het daar ook seën in die vorm van reën wyd oor ons pragtige land uitgesak en dorre gebiede deurdrenk. Selfs die kus het sy enkele druppels gekry. Daar is wel nog groot dele wat hierdie lewegewende water nog nie ontvang het nie.

2021 hou sy eie uitdagings in. Tog is die keuse in ons hande hoe ons dit gaan aanpak. Myne. Ek gaan niks berou nie. Ek gaan doen wat my gelukkig maak. Ek gaan elke oomblik tot my beskikking die moeite werd maak.

Hoe die jaar ook al vir jou begin het, ek hoop dat God se seën in jou lewe sal uitgiet en jy weet dat alles en almal sy tyd en sy plek het.

Voorspoedige 2021

2020 in oënskou

The best things in life are the people you love, the places you’ve been, and the memories you’ve made along the way.

Dit was my Instagram post gisteroggend. Met die vraag, hoe lyk 2020 vir jou in oënskou op die vooraand van 2021?

Myne. 🙂 Wat ’n jaar. En alles het so rustig en normaal begin by ons werk langs die Erongo berge. Soos ek hier sit en skryf voel ek gelukkig. Ja die jaar was lank en vol ontberings, maar dit was ook goed. (Daarom dink ek ook die gekleurde toiletpapier wat ons in Parys gesien het is ‘n goeie pun om 2020 te beskryf.)

Jy gaan dalk stry, maar moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek kan aan al die negatief vasklou, maar vir wat? Wat gaan dit my in die sak bring? Ek kies om die goeie te onthou in ’n jaar wat vir almal verandering gebring het. Selfs al het dit só gelyk:

Continue reading 2020 in oënskou

Die tyd is nou

Sjoe. 2020 het sowaar vreemde draaie met ons geloop. En hier is ons op die vooraand van Kersfees.

Ek is skuldig daaraan dat ek nie baie gedeel het in die afgelope paar maande nie. Dit ná ek redelik gereeld my gedagtes met julle gedeel het. Dit voel egter asof so saam met die inperking, het my gedagtes ook ingeperk geword. Woorde kom die jaar nie maklik nie. Ek is nie seker daar is regtig woorde om hierdie jaar te beskryf nie. Vir ons elkeen was daar ander uitdagings. Vir sommiges vooruitgang. Vir ander slegs uitgawes. Meeste van ons is in ’n nuwe rigting ingestoot. Of ons daar wou wees of nie.

Tog is ek dankbaar. Baie, baie dankbaar. Dit gaan goed met ons. Ek, my man en ons onlangs aangenome kat. Ek hoop jy is ook dankbaar. Daar is altyd uitdagings. Hierdie jaar het heelwat meer gehad, ja, maar deur God se genade het ons ’n dak oor ons kop, kos op ons tafel en ’n warm bed waarin ons slaap. Ons kan nog op ons eie aangaan. Dit is voorwaar iets om voor DANKBAAR te wees.

Ek dink ons moet ons uitkyk verander. Eerder as uitsien na 2021 en hoe dit beter gaan wees, kom ons verander ons uitkyk nou al. Hier. Vandag. Nóú. Die mag is in ons hande. Eerder as wag vir môre, kom ons maak nou ’n bewustelike besluit om die res van hierdie dag beter te maak.

Dis hoekom dit immers in Engels as “present” bekend staan. En die tyd kan nie beter as om die geskenk van hierdie geleende tyd op aarde te besef as juis nou nie.

Aan jou en jou geliefdes wens ek ’n geseënde Kersfees toe.