Wanneer die lang wag verby is

en die vakansie werklikheid word …

Vandat Christelle in 2018 haar voete op Franse bodem bevind het in Krummelpap in Parys, beloof ek myself al dat ek self ook eendag die roetes wat sy gestap gaan aandurf. Daardie droom word uiteindelik werklikheid.

So lank as wat ek kan onthou, nee wag, so vroeg as toe ek my eerste Ena Murray boeke gelees het, droom ek al van ’n reis na Europa. Die kastele en geheime bouvalle het my destyds al gefassineer. Mettertyd het die belangstelling gegroei. Die geskiedenis. Die kultuur. Die andersheid van wat ons hier in Afrika ken. Dit alles het my gelok. En toe Nataniel met Edik van Nantes verskyn, toe is nie net ek nie, maar ook my man vasgevang. Daardie reis het ’n vaste voorneme geword.

In 2019 begin ons wonder waarheen gaan ons met ons volgende verlof … my antwoord: “Frankryk. En terwyl ons daar is, hoekom nie Italië ook nie? Dis waar Jana van Haar hartsbegeerte en meer haar immers in ’n fontein bevind het.”

Beplanning en die gewag het begin en die naels kou na die dag wat ons vir ons Visas moet aansoek doen en hier is ons op die drumpel. Visas in die een hand, vlugkaartjies in die ander en ons rugsakke gereed om gepak te word. Krummelpap in Parys en Haar hartsbegeerte en meer lê gereed. Die dames is gereed om weer Europa te besoek. Hierdie keer vir ’n werklike besoek.

🙂

2018 … was dit maar net een jaar?

Dit voel asof hier baie meer dae in hierdie volgepakte jaar was. 2018 was voorwaar tjok en blok vol oppe en affe. Hoogtepunte en laagtepunte. Goeie dinge, amazing dinge, ongelooflike dinge … maar ook minder positiewe oomblikke …

2018 was vir my ’n jaar van verandering. My pad het baie skielik, baie vinnig en baie groot verander. Continue reading

Kalahari sonsak

Daar is min dinge vir my so mooi soos ’n Kalahari sonsondergang … en ek het al BAIE sonsondergange in my lewe gesien. As veldgids was dit ’n daaglikse gebeurtenis. Ry tot jy sien daar is so halfuur oor, dan soek jy ’n mooi ‘spot’, stel die tafeltjie op en maak seker elke gas het ’n drankie terwyl julle toekyk hoe die son nog ’n dag groet.

Niks kan egter die gevoel by my wek wat die Kalahari in my wek nie.

Sag speel die wind deur die wuiwende gras

Die reuk van skoon aarde en vars lug prikkel jou neus

Die koer van ’n duif of die mê van ’n lam in die agtergrond

Jy hoor die wind, jy voel sy arms sag om jou vou

En stadig, grasieus, sak die son nader aan die horison

Rooi kleur die lug, rosig oranje die rand van ’n wolk of skitter silwer op ’n stoflose dag

Die wind raak stil, die duif hou op koer

Vasgevang in tyd, hang die son ’n oomblik bewegingloos …

voor dit skielik wegsink en knip jy jou oë is dit skielik net nie meer daar

Vrede kom vind rusplek in jou siel

Waar anders kan ’n dag so perfek afsluit

 

Jan Tuisbly se karretjie

“Kom ons gaan gou vir ’n naweek Gobabeb toe.” Twee sekondes later. “Hmm. Miskien ry ons eerder met Jan Tuisbly se karretjie soos brandstofpryse nou styg.”

“Dalk moet ons ’n vliegtuigie aanskaf? Die kostes gaan wraggies binnekort dieselfde wees oor lang afstand.”

“Dink net hoe vinnig gaan ons dan op die plaas kom! Dis sommer tjop-tjop, dan is ons daar. As ons twee ure korter kan vlieg as die vyf en ’n half ure se ry, dan is dit mos ’n ekstra bonus.”

vw-car-up-on-blocks-AR6J1R
Met trots geborg deur Google images

“Absoluut!”

So sit en dagdroom ek en my kleinsus terwyl ons oorweeg wat om met ons af-naweke te doen. Ons wil bietjie uit die stad kom, maar liewe aarde, die plekke waarheen ons die graagste wil gaan, sal ons tans ’n arm en ’n been kos. Om dan nie eens te praat van die Desember vakansie wat voorlê nie.

Nee wat, Jan Tuisbly se karretjie gaan dit wees ná volgende naweek se trippie af plaas toe. Dalk bring aanstaande jaar nuwe hoop en geld wat aan bome groei.   😀

“LOL! We wish.”

Lugleegte

Wat doen jy wanneer daar net blank space in jou kop is?

Ek bevind my op ’n vreemde plek. Ek is nie presies seker wat aangaan nie. Mis ek net my man? Het die realiteit van ons lewensverandering begin insink? Skop my gemaklikheid-sone reguleerder in? Kort ek dalk net ’n ordentlike vakansie? Is die lang wag om te hoor of nog ’n manuskrip goedgekeur is die ding wat my skrywe stuit? Continue reading Lugleegte

Wanneer die eerste reën val

Tikke-tikke-tak tikke-rikke-tak

val die reën op die dak

Daar is ’n lied in my hart

as ek dink aan die boere se smart

Die jaar was droog

hulle staan met ’n traan in die oog

Seëninge soos silwer val uit die lug

om weer regop te trek die rug

Vol loop die gemoed

vir eers gaan dit nou weer goed

 

 

Daar is niks wat my hart so laat swel soos die klank van reën wat neersyg oor ’n dorstige aarde.

Die jaar was lank, die reën was min en in heelwat gemoedere is ’n smeekgebed.

Die eerste goeie reën so vroeg in die najaar laat ons hoop, mag ons Skepper hierdie seisoen ons gebede verhoor en sy seën oor ons kom giet.

 

Proeseltjie: Vir ‘n oomblik vir altyd – Ciska Olivier

Hy kom sit weer op die rand van die bed en sy duim vee liggies oor haar voet. “Ek moet om verskoning vra dat ek jou omgeloop het. Tog is ek nie jammer ek het in jou vasgeloop nie.” Hy glimlag skeef en kyk deur sy wimpers na haar.

As sy gedink het hy kan nie aantrekliker wees nie, het sy haar gruwelik misgis. Dit is asof die aarde stadig tot stilstand kom, maar haar hart nuwe hoogtes bereik.

“Dis nie aldag dat ’n man hom in so ’n oulike rooikop vasloop nie,” fluister hy hard en leun sameswerend nader.

Haar mond val verbaas oop en sy knip haar oë. Het sy reg gehoor?

Hy skuif nog nader en sy voel hoe haar keel toetrek toe sy heup teen hare druk. Sy oë het verdonker en het nou ’n swaar uitdrukking. Dit lok haar soos ’n mot na ’n vlam. Continue reading Proeseltjie: Vir ‘n oomblik vir altyd – Ciska Olivier

Vir ‘n oomblik vir altyd

VIR ’N OOMBLIK VIR ALTYD is die eerste boek in die Hartebrekers reeks, maar aangesien ek dit reggekry het om die manuskrip te lank te maak, met ’n volle 10’000 woorde, moes ek dit verkort … Geen maklike taak nie, want as skrywer voel jy dat elke toneel in die storie hoort. Tog, na enkele weke se geswoeg en sweet oor wat om te verwyder, was die manuskrip weereens afgehandel en kon die proses om dit te druk voortgaan. Dit is dan ook hoe dit gekom het dat KRUMMELPAP IN PARYS eerste uitgegee is. Die beste gedeelte. VIR ’N OOMBLIK VIR ALTYD het kort op sy hakke gevolg.

Nou kyk, ek is ’n lang vrou. Soos in regtig lank. 1,88 m hoog. Om dus ’n romanse te skryf vir ’n klein meisie, ’n regtige klein meisie (vir my) op 1,50 m was ’n nuwe ondervinding. Ek moes immers ‘ondersoek’ hoe so klein persoon die wêreld beleef. Interessant genoeg is dit baie dieselfde soos ek, behalwe dat alles die teenoorgestelde is. Continue reading Vir ‘n oomblik vir altyd

Proeseltjie: Krummelpap in Parys – Ciska Olivier

Hy vat haar hand en kyk na die verskeie krulle, draaie en patrone van die armband. “Dit is mooi.”

“Dankie.” Sy trek haar hand terug, maar kan die trots wat in haar opstu nie onderdruk nie. “Die oorbelle is hul pasmaats, maar nie die halssnoer nie. Noem my maar obsessief, maar die meeste van my eie juwele het ek self gemaak. Dit is net geskenke soos hierdie wat nie my eie werk is nie.”

Sy oë vonkel toe hy glimlag. Continue reading Proeseltjie: Krummelpap in Parys – Ciska Olivier