Wanneer die lang wag verby is

en die vakansie werklikheid word …

Vandat Christelle in 2018 haar voete op Franse bodem bevind het in Krummelpap in Parys, beloof ek myself al dat ek self ook eendag die roetes wat sy gestap gaan aandurf. Daardie droom word uiteindelik werklikheid.

So lank as wat ek kan onthou, nee wag, so vroeg as toe ek my eerste Ena Murray boeke gelees het, droom ek al van ’n reis na Europa. Die kastele en geheime bouvalle het my destyds al gefassineer. Mettertyd het die belangstelling gegroei. Die geskiedenis. Die kultuur. Die andersheid van wat ons hier in Afrika ken. Dit alles het my gelok. En toe Nataniel met Edik van Nantes verskyn, toe is nie net ek nie, maar ook my man vasgevang. Daardie reis het ’n vaste voorneme geword.

In 2019 begin ons wonder waarheen gaan ons met ons volgende verlof … my antwoord: “Frankryk. En terwyl ons daar is, hoekom nie Italië ook nie? Dis waar Jana van Haar hartsbegeerte en meer haar immers in ’n fontein bevind het.”

Beplanning en die gewag het begin en die naels kou na die dag wat ons vir ons Visas moet aansoek doen en hier is ons op die drumpel. Visas in die een hand, vlugkaartjies in die ander en ons rugsakke gereed om gepak te word. Krummelpap in Parys en Haar hartsbegeerte en meer lê gereed. Die dames is gereed om weer Europa te besoek. Hierdie keer vir ’n werklike besoek.

🙂

Wanneer dit voel of die jaar te lank raak

Dis November. Nog net 53 slapies en hierdie jaar is ook verby. Waarna kyk jy terug? Wat het hierdie jaar vir jou die moeite werd gemaak?

November. Die tyd van die jaar waar niemand meer lus het nie. Jy is moeg, afgerem, gejaagd. Jy kan nie wag dat dit net verby kom nie. Tog, dit voel ook of die jaar te vinnig ten einde spoed. Daar was so baie wat jy hierdie jaar nog wou doen.

Wat jou situasie ook al mag wees. Waardeer hierdie tyd. Bly rustig. Onthou die goeie van die jaar en sien uit na die Feesgety wat voorlê. Dink voor jy doen. Hou kalm daardie gedagtes.

Sommiges van ons is af, sommiges van ons werk. Hoe dit ook mag sy, maak seker jy sluit 2019 met ’n hoë noot af.

Haar hartsbegeerte en meer

Ek is ’n groot CSI entoesias. Hetsy dit CSI Miami, NY, Las Vegas, NCIS of Air crash investigations is. Ek hou daarvan om probleme op te los en antwoorde te vind vir dinge wat ek nie verstaan nie. Die manier hoe mense dink en wat maak dat hulle doen wat hulle doen. Hierdie is dinge wat my aan die dink sit. Gee egter vir my ’n speurverhaal … Wel. Dit gaan nie so sterk af nie. Ek dink daar is ’n mate van vryheid daarin om nie jou brein te veel in te span nie en ’n boek het die vermoë om jou brein oortyd te laat werk. Boonop kan ek nie ’n boek neersit as ek eers begin het nie.

Dus, die tv reekse pas my goed en as ek skryf, dan hou ek van die meer romantiese sy van dinge. Dis immers waar my groot liefde lê. By die LIEFDE.

Hoe dan nou anders as om die twee te kombineer? Wat kan groter onsekerheid by my heldin bring as om ’n man te ontmoet vir wie sy wil vertel wie sy is maar sy kan nie, want hy is ’n werknemer van die plek wat sy ondersoek. Wat kan nog groter innerlike konflik veroorsaak as ’n vrou wat nie weer iets vir enige man wil voel nie en dit juis as ’n skild gebruik. Teen haarself.

En dan kom die held wat hom nie laat afsit deur die heldin se hardekwasgeid nie. ’n Man wat self sy eie duiwels het, maar wat tog nie bang is vir lewe nie. Vir voel nie. Of hy gaan commit, dit is natuurlik ’n heel ander vraag. Dieselfde vraag wat die heldin heeltyd op haar pasoppens hou.

So hoegemaak met twee mense wat glad nie dink ’n happily forever after is hulle beskore nie?

Begeerte. Vuurwerke vanaf die eerste ontmoeting. Kyke wat ’n vertrek aan die brand sal steek. ’n Mag sterker as hulself wat hulle konstant na mekaar toe aantrek, no matter what.

Gooi in ’n jong man wat dink hy is slimmer as ander en die heldin boonop in haar eie ondersoek betrek, tot hy oornag verdwyn en jy het ’n baie bekommerde vrou wat iemand moet vertrou. Al is dit die laaste man wat sy ooit sou wou betrek.

(Op hierdie punt moet ek sê: LET WEL, Ek vertrou jou en Haar hartsbegeerte en meer loop hand aan hand en jy lees presies wat van Gert geword het in Ek vertrou jou, so as jy kan, lees Haar hartsbegeerte en meer eerste. 🙂 )

En ta-da! Die storie het homself begin skryf. Want niks kan iets keer wat bedoel is om te wees nie. Geen gebrokenheid, geen reëls, geen geheime en geen afstand nie. Wat moet wees, sal wees. En dit was.

Ek hoop jy geniet hierdie storie net soveel soos ek dit geniet het om dit vir jou te skryf.

Hou die kortverhaal kórt

Ek het vandag lekker gelag. Daar is ‘n uitroep op sosiale media van LAPA Uitgewers dat hulle dringend RomanzaLiefde en Kortverhale soek. Ek reply so ewe op die Instagram post “Ek stuur sommer vanaand nog een”.

Nou kyk, ek is altyd besig om aan die een of ander manskrip te werk. Soos dit is, het ek pas ‘n SuperRomanza klaargemaak en daar lê en wag ‘n RomanzaLiefde waaraan ek reeds begin werk het voor ons skielike lewensveranderinge. Glo my, dit was drie lang maande waarin my vingers al begin brand het en die karakters in my kop al op my begin skree het oor hulle nie losgelaat word nie. My man het al begin sê dit is tyd dat ons tyd maak sodat ek ‘n slag kan skryf. Dan moet jy nou weet.

Nou ja, ek maak nie ydele beloftes nie. My kop is aan die draai en ek loer deur al die storie idees wat al deur die jare gegroei het. Daar is reeds 57 van hulle … en nog kom loer ‘n nuwe idee ten minste een keer per maand oor die muur. Dus, LAPA, is ek in die wolke oor julle nuwe druk opsies vir korter verhale.

Goed. Kortverhaal. Ek weet presies wie ek ingedagte het. Want net so onverwags soos hulle verhaal sou wees, net so goed sal dit binne ‘n kortverhaal pas.

Maar moenie glo nie. Ek, die skrywer wat 5’000 woorde per dag kan tik kry dit wraggies waar reg om by 1’800 woorde vas te haak van die 2000 – 2500 woorde wat nodig is. Hoekom? Want die lyntjie wat ek pas getik het voel vir my of dit die finale lyn moet wees. Ook seker maar oor ek geweet het ek moet nou nie oorboord gaan nie, want dan eindig hierdie storie in ‘n volwaardige Romanza. Jip. Dis moontlik. Dit is immers hoe ek begin skryf het.

Elkgeval. My probleem is dit: Ek wil nie te veel weggee nie, want dit vorm deel van my nuutste reeks, maar ek kan ook nie te min weggee nie. Sien?

Rol die vingers. Dink. Lees. Herlees. Oplaas! Natuurlik. Hoe dan anders? En binne minute het ek die gewenste aantal woorde. Lees en herlees en ek sleep my man nader. Tyd dat hy dit toetslees.

Nou kyk, ek vrek oor my man en het hom tot in die afgrond in lief, maar hy is nie ‘n ou wat romanse lees nie. Hy is romanties, maar dis waar dit eindig. Tog het hy beloof dat hy elke een wat gepubliseer word sal lees. Super awesome, is dit nie!? Dat hy my eerste boek nie kon neersit nie, is nog steeds die grootste lof wat hy my kon gee! So trots. Jy is steeds my held, my skat. Dalk nou nog meer as tevore.

En nou babbel ek. Ek is vanaand in ‘n besonders goeie bui.  😉  Ek is altyd wanneer daar soveel liefde in en om my rondwarrel.

Hy lees die storie klaar en knik.

“Oukei. Wat dink jy?” por ek aan.

Hy trek sy skouer op. “Dis cool.”

“Dit werk?”

“Natuurlik. Dis my gunsteling soort. Kort en saaklik. Girl meets boy, hulle raak verlief, die einde.”

Ek lag. Ek kan nie anders nie.

Blomme vir Melissa

Terwyl ek Vir ’n oomblik, vir altyd geskryf het, was Nico en Melissa se storie heeltyd in die agtergrond. Ek het begin wonder hoe sal hulle storie afspeel en kan ’n hartebreker, losloper, anti-trou man werklik sy siening verander en ewige trou aan een vrou beloof? Sal ’n meisie soos Melissa ook bereid wees om ’n man wat haar so gruwelik in die steek gelaat het, dit oor haar hart kry om hom te vergewe en haarself kan toelaat om weer so ’n waagstuk aan te gaan?

’n Storie is gebore en alhoewel ek gedeeltes van Nico se stryd uit Vir ’n oomblik, vir altyd moes weglaat (vanwee die feit dat die boek te lank was 🙂 ), was dit so eg, dat dit onmiddellik vir my in Blomme vir Melissa weerklank gevind het. Ek glo aan tweede kanse. Selfs derde kanse. Ek glo mense kan verbeter en ek glo elke mens het rede om te wees soos hulle is. Ek glo ook dat mense aan hulleself kan werk en in ’n beter weergawe van hulself kan ontaard. Niemand is immers net sleg nie. Nico is dalk in hart en siel ’n player, maar sy kern is uit die ‘stuff of heroes’ gemaak.

Melissa het dit in hom raakgesien en net soos sy dit uitlok, so lok hy ook haar verskuilde karakter uit en ontmoet jy in werklikheid ’n baie sterker vrou as wat almal haar voor aangesien het. Skaam en teruggetrokke mense kan dikwels baie sterker wees as wat mense dink. Melissa het dit nie maklik gehad nie en as eenkant mens is sy dikwels uitgelaat. Eenkant is egter ver verwyder van eensaam. Sy’t geweet wie sy is en soos hulle sê, ’n vrou is soos ’n teesakkie; Jy weet nooit hoe sterk sy is, tot sy in warm water gesit word nie. Inherent goed. Bereid om mense ’n tweede kans te gee. Moet haar egter nie onderskat nie. Sy het ’n wil van staal onder haar bedeesde uiterlike.

Nico en Melissa het vriende in ons huis geword. Hulle is mense met wie ons kan vereenselwig. Mense wat die grense kon oorskry en vergifnis en aanvaarding in hul harte vir hulself en mekaar kon vind. Hartsmense.