2020 in oënskou

The best things in life are the people you love, the places you’ve been, and the memories you’ve made along the way.

Dit was my Instagram post gisteroggend. Met die vraag, hoe lyk 2020 vir jou in oënskou op die vooraand van 2021?

Myne. 🙂 Wat ’n jaar. En alles het so rustig en normaal begin by ons werk langs die Erongo berge. Soos ek hier sit en skryf voel ek gelukkig. Ja die jaar was lank en vol ontberings, maar dit was ook goed. (Daarom dink ek ook die gekleurde toiletpapier wat ons in Parys gesien het is ‘n goeie pun om 2020 te beskryf.)

Jy gaan dalk stry, maar moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek kan aan al die negatief vasklou, maar vir wat? Wat gaan dit my in die sak bring? Ek kies om die goeie te onthou in ’n jaar wat vir almal verandering gebring het. Selfs al het dit só gelyk:

Continue reading 2020 in oënskou

Die tyd is nou

Sjoe. 2020 het sowaar vreemde draaie met ons geloop. En hier is ons op die vooraand van Kersfees.

Ek is skuldig daaraan dat ek nie baie gedeel het in die afgelope paar maande nie. Dit ná ek redelik gereeld my gedagtes met julle gedeel het. Dit voel egter asof so saam met die inperking, het my gedagtes ook ingeperk geword. Woorde kom die jaar nie maklik nie. Ek is nie seker daar is regtig woorde om hierdie jaar te beskryf nie. Vir ons elkeen was daar ander uitdagings. Vir sommiges vooruitgang. Vir ander slegs uitgawes. Meeste van ons is in ’n nuwe rigting ingestoot. Of ons daar wou wees of nie.

Tog is ek dankbaar. Baie, baie dankbaar. Dit gaan goed met ons. Ek, my man en ons onlangs aangenome kat. Ek hoop jy is ook dankbaar. Daar is altyd uitdagings. Hierdie jaar het heelwat meer gehad, ja, maar deur God se genade het ons ’n dak oor ons kop, kos op ons tafel en ’n warm bed waarin ons slaap. Ons kan nog op ons eie aangaan. Dit is voorwaar iets om voor DANKBAAR te wees.

Ek dink ons moet ons uitkyk verander. Eerder as uitsien na 2021 en hoe dit beter gaan wees, kom ons verander ons uitkyk nou al. Hier. Vandag. Nóú. Die mag is in ons hande. Eerder as wag vir môre, kom ons maak nou ’n bewustelike besluit om die res van hierdie dag beter te maak.

Dis hoekom dit immers in Engels as “present” bekend staan. En die tyd kan nie beter as om die geskenk van hierdie geleende tyd op aarde te besef as juis nou nie.

Aan jou en jou geliefdes wens ek ’n geseënde Kersfees toe.

Iets om na uit te sien

Elke skrywer droom seker van die dag wat sy/hy oor hulle werk kan gesels. Dis iets van ons wat ons aan die wêreld blootstel. Ons gee ons gedagtes vlerke en laat dit die onbekendes invlieg. Elke woord is ’n deel van ons siel. ’n Stukkie van wie ons is.

Dit is hoe dit immers vir my voel. Boonop skryf ek oor die liefde en die liefde is een van die wispelturigste emosies. Tog is ek verlief op die liefde. Ek kan nie genoeg daarvan kry nie en elke wroeging waardeur my karakters gaan is een wat ek met hulle deel. En wanneer liefde seëvier … Hmm, daardie oomblikke is vir my net so hemels.

Daarom is hierdie vir my so ’n groot voorreg om hier uit my eie sitkamer genooi te word om met een van my gunsteling skrywers te gesels oor een van my boeke. Iets wat in ander omstandighede dalk skaars moontlik sou wees.

Ek sien baie uit na die kuier en hoop dat elkeen wat saam kuier dit net so baie gaan geniet.

Die liefde is lekker. Die liefde is mooi. Die liefde is al wat jy nodig het.

’n Skuitjie in die oseaan

Ek hou van uitdagings. Iets wat my besig hou. My brein stimuleer. My aan die dink en beplan hou.

Ek is seker daar is baie mense wat gaan sê dit is vanselfsprekend. Baie mense wat sal sê dis mos hoe dit moet wees. Daar is ook ander wat sal verkies om dit nie so te hê nie.

Ons almal verskil. Ek het al dikwels gevoel en gewens ek kan net bietjie rustiger wees. Dinge stadiger vat. Dat my dag net bietjie stiller sal wees. Covid-19 het dit vir meeste van ons moontlik gemaak om te sien en te voel presies hoe dit voel om ‘stil en rustig’ by die huis te moet sit en wag.

Dit is frustrerend. Uitmergelend. Daar was niks ‘stil en rustig’ daaraan nie. Nie toe die probleme werklik begin nie. Dit het my uitgeput en ontneem van entoesiasme, van inspirasie. Dit was horrible. Nie net omdat ons nie werk toe kon gaan nie, maar ook omdat ek en my man ons werk verloor het. Ons is skielik ’n drywende skuitjie in ’n oseaan waarvan die golwe al hoe meer dreigend aanrol. Jy voel of jy gaan sink, maar jy weet ook dat jy ten alle koste hierdie bootjie teen die aanslae moet beskerm. Jy moet planne maak. Water uitskep en beskerming bou teen die groeiende storm.

Niks gebeur maklik of vinnig in hierdie lewe nie. Ek is hard werk en lang ure gewoond. Om met idees vorendag te kom was maklik, dis die wag vir iemand om ’n spreekwoordelike boei uit te gooi sodat jy kan begin werk, wat jou tot op die nerf ontsenu. Almal sukkel op een of ander wyse in hierdie onseker tyd.

Ons is gelukkig. Ons skuitjie was redelik stewig met die uitset van hierdie vaart. Voorsiening het ons van ’n gewisse ‘waterdood’ gered. Ons is nog drywend. ’n Tweede boot het op ons horison verskyn en ons is tans teen dié geanker. Die waters is nie meer so rof nie. Helderder denke het ook inspirasie saam gebring. Ek sien weer uit na die dag. Let wel, ek sien uit, ek vat dit nie meer net soos dit kom nie. Ek dink dit is geweldig belangrik. Jy moet uitsien na iets om dit die moeite werd te maak.

Ek is opgewonde. Inspirasie is besig om terug in my are te kruip en dit maak my opgewonde. Nog ’n nuwe idee het by my kom aanklop en dit het my in ’n ekstatiese toestand, want dis iets wat ek geniet om te doen. Iets wat dalk werklik aftrek sal kry. Ek voel weer die genot van uitdagings. Die vooruitsig van my brein wat besig raak met beplanning.

Dit het nie maklik gekom nie. Ek was traag om na my ou aktiewe self terug te keer. Na maande van ydel ‘rondsit’ en wag vir iemand om oor ons pad te kom doen dit aan ’n mens. Jy probeer jouself tot aksie forseer. Jouself uit die put waarin jy begin afsak het te trek. En dit is nie maklik nie. Ek het soveel begrip met elkeen wat op die oomblik dieper in daardie bodemlose put wegsak. Hoe keer jy depressie? Hoe keer jy lewenskrag wat uit jou wegvloei? Hoe maak jy jou oë in die nuwe dag oop en stel jouself gerus dat dinge sal beter gaan. Een of ander tyd. Dit terwyl jy geen lig aan die einde van die tonnel kan sien nie?

Dis moeilik. Dis hard. Dis ’n onbenydenswaardige posisie.

Ek kan nie voorgee dat ek die antwoorde het nie. Ons elkeen is in ons eie stryd gewikkel. Wat vir my werk, werk nie noodwendig vir die volgende persoon nie. Ek het besef ek moet self hier uit. Ek en my man. Want ons was besig om ons binneste met swart ondeurdringbare modder op te vul. As jy eers daar vasval, dan is die uitkom ’n duisend maal moeiliker.

So ek het harder, ernstiger begin bid. Ek het raad begin soek. Ek het myself aangemoedig om weer te begin uitsien na die dag. Een treetjie op ’n slag. Ek het hierdie ‘helpguide’ webblad raakgesoek en na weke voel ek weer soos my ou self. ’n Enkele tree daagliks het ons weer nader aan verbetering gebring. En wanneer optimistiese inspirerende gedagtes net eers weer begin vloei, raak die pad makliker. Ek is dankbaar. Want te midde van hierdie storm, sien ek weer die naderende sonsopkoms. En ek is seker dit gaan asemrowend wees.

Ek hoop dat jou roete ook reeds verbeter het, jy die krag sal kry om dit aan te pak, of die hoop sal kry wat jy vandag dringend nodig het.

Mag hierdie hulpgids dalk vandag vir jou ook van waarde wees. Hou aan roei. Hou aan hoop. Hou aan bid. Die storm kan nie vir ewig aangaan nie. En onthou, ons word gevorm deur die swaarkry. God is altyd by ons. As jy terugkyk oor die strand en net een ry spore sien, dis oor Hy jou gedra het, dis nie jou spore wat alleen daar lê nie.

Kikker jou dag op met hierdie lied van Rachel Platten: https://www.youtube.com/watch?v=xo1VInw-SKc