Dankbaarheid

Dit is lekker om myself weer te vind en terselfdertyd ook weer my man te vind. Want ja, oor die afgelope paar jaar het ons so bietjie voeling met mekaar verloor. Om stresvolle situasies te hanteer neem baie uit jou. Om te sien hoe die ekonomie jou werk van jou ontneem, roer aan jou. Om saam te werk is geen grappies nie. Veral nie wanneer beide van julle weet waarvan julle praat en verskillende ondervindings opgebou het nie. Om nie te weet wat die toekoms inhou nie, ontmoedig jou.

Maar vandag, ten spyte van die kommer en onsekerheid wat die toekoms vir ons inhou, lag ons weer. Ons doen prettige dinge saam. Ons beplan saam en geniet dit. Ons het weer tyd vir mekaar en gee nie om om iets saam te doen nie, want ons doen dit nou vir onsself.

Ek het dit gemis. Mens besef nie wat jy gehad het tot jy dit nie meer het nie. Dit is so waar. Die wonder is dat jy dit dikwels weer kan terugkry. Jy moet net bereid wees om dit na te jaag. Te besluit dat jy nie sal opgee op jou geluk nie. Mekaar weer vind, daar waar julle altyd vreugde saam gevind het.

Ek is gelukkig vandag. Sielsgelukkig. En ek sê dankie.20200229_193639

Vreemde draaie

Die lewe het die vermoë om vreemde draaie met ’n mens te loop. Ek is seker almal op aarde voel op hierdie oomblik of hulle in een of ander vorm van ’n weghol-trein, tollende rondomtalie of skuitjie in ’n groeiende onstuimige see is. Nie een van ons wil werklik aan ’n ander se probleem dink terwyl ons nou so vasgevang is in ons eie probleme nie. Sommige wonder, wanneer kan ek eendag weer werk toe gaan. Ander, waar gaan ons volgende bord kos vandaan kom. Ander neem van die situasie misbruik en buit mense op die slinksste maniere uit om hulle van hul ‘hard earned income’ te ontneem.

Ekself weet werklik nie meer wat om te dink of hoe hierdie situasie hom gaan uitspeel nie. Om baie eerlik te wees Continue reading Vreemde draaie

Droomreis in ‘n tyd van Covid-19

Dis ’n vreemde gevoel. Skaars twee maande gelede was ons op die drumpel van ons opkomende verlof. Opgewonde het ons uitgesien na ons vakansie en kon ons nie uitgepraat raak oor wat ons alles gaan sien en beleef nie.

Die nuwe Coronavirus wat in China uitgebreek het en stadig na omliggende lande begin versprei het, het nie ons geesdrif gekelder nie. Met die WHO se skakel boaan my internet soeklys om ons konstant op hoogte van die situasie te hou, het ons op die vliegtuig geklim na Frankryk.

Wat ’n ongelooflike tyd Continue reading Droomreis in ‘n tyd van Covid-19

Wandelpaaie

Die paaie wat ons loop kronkel soms baie. Dit neem ons oor berge en ander kere deur diep riviere. Wanneer jy deur grasgroen of blomryke velde stap, is dit maklik. Vergeet ons van die berg agter ons.

Ek hou van stap. Dit help om my kop skoon te maak. Soms help stap alleen nie. Is my kop te besig en hardloop my gedagtes soos mal varkies die wêreld vol rond. Sulke tye gaan sit ek op ’n verskuilde hoekie waar ek die wêreld om my rustig kan bespied tot al die dwalende gedagtes klaar gedwaal het en terugkom na my toe. Dikwels meer rustig en soms selfs met ’n nuwe idee van watter rigting om in te slaan.

Daar in die stilte van die oggend met die voëls wat om jou roep, die goggas en miere aan jou voete, besig om hul dagtaak te vermag vind jy soms die rustigheid waarna jy smag. Jy raak rustig. Jy dink oor baie dinge. Jy konsentreer op jou asemhaling, jou lyf en wat jy voel. Jy dink aan alles wat jou rondjaag en een vir een pak jy hulle terug in hul kassies. Sorteer jy die verwarring uit.

Ons stap almal op ons eie wandelpad. Ons paaie kruis met baie ander wandelaars en soms kruis dit juis met iemand sin wat jou laat voel dit is oukei om te voel soos jy voel. Dit is oukei as jy nie kan sien waar hierdie pad vandag, môre of volgende week gaan uitkom nie. Die belangrikste is dat jy aanhou stap. Gun jouself die ruskanse. Gee jou gedagtes soms vrye teuels om soos wilde perde deur die veld te storm. Sodra jy die wa deur die drif moet trek, kom val daardie einste wilde perde dalk net in lyn.

So hier is op vandag. Carpe diem.