Dankbaarheid

Dit is lekker om myself weer te vind en terselfdertyd ook weer my man te vind. Want ja, oor die afgelope paar jaar het ons so bietjie voeling met mekaar verloor. Om stresvolle situasies te hanteer neem baie uit jou. Om te sien hoe die ekonomie jou werk van jou ontneem, roer aan jou. Om saam te werk is geen grappies nie. Veral nie wanneer beide van julle weet waarvan julle praat en verskillende ondervindings opgebou het nie. Om nie te weet wat die toekoms inhou nie, ontmoedig jou.

Maar vandag, ten spyte van die kommer en onsekerheid wat die toekoms vir ons inhou, lag ons weer. Ons doen prettige dinge saam. Ons beplan saam en geniet dit. Ons het weer tyd vir mekaar en gee nie om om iets saam te doen nie, want ons doen dit nou vir onsself.

Ek het dit gemis. Mens besef nie wat jy gehad het tot jy dit nie meer het nie. Dit is so waar. Die wonder is dat jy dit dikwels weer kan terugkry. Jy moet net bereid wees om dit na te jaag. Te besluit dat jy nie sal opgee op jou geluk nie. Mekaar weer vind, daar waar julle altyd vreugde saam gevind het.

Ek is gelukkig vandag. Sielsgelukkig. En ek sê dankie.20200229_193639

Droomreis in ‘n tyd van Covid-19

Dis ’n vreemde gevoel. Skaars twee maande gelede was ons op die drumpel van ons opkomende verlof. Opgewonde het ons uitgesien na ons vakansie en kon ons nie uitgepraat raak oor wat ons alles gaan sien en beleef nie.

Die nuwe Coronavirus wat in China uitgebreek het en stadig na omliggende lande begin versprei het, het nie ons geesdrif gekelder nie. Met die WHO se skakel boaan my internet soeklys om ons konstant op hoogte van die situasie te hou, het ons op die vliegtuig geklim na Frankryk.

Wat ’n ongelooflike tyd Continue reading Droomreis in ‘n tyd van Covid-19

Wandelpaaie

Die paaie wat ons loop kronkel soms baie. Dit neem ons oor berge en ander kere deur diep riviere. Wanneer jy deur grasgroen of blomryke velde stap, is dit maklik. Vergeet ons van die berg agter ons.

Ek hou van stap. Dit help om my kop skoon te maak. Soms help stap alleen nie. Is my kop te besig en hardloop my gedagtes soos mal varkies die wêreld vol rond. Sulke tye gaan sit ek op ’n verskuilde hoekie waar ek die wêreld om my rustig kan bespied tot al die dwalende gedagtes klaar gedwaal het en terugkom na my toe. Dikwels meer rustig en soms selfs met ’n nuwe idee van watter rigting om in te slaan.

Daar in die stilte van die oggend met die voëls wat om jou roep, die goggas en miere aan jou voete, besig om hul dagtaak te vermag vind jy soms die rustigheid waarna jy smag. Jy raak rustig. Jy dink oor baie dinge. Jy konsentreer op jou asemhaling, jou lyf en wat jy voel. Jy dink aan alles wat jou rondjaag en een vir een pak jy hulle terug in hul kassies. Sorteer jy die verwarring uit.

Ons stap almal op ons eie wandelpad. Ons paaie kruis met baie ander wandelaars en soms kruis dit juis met iemand sin wat jou laat voel dit is oukei om te voel soos jy voel. Dit is oukei as jy nie kan sien waar hierdie pad vandag, môre of volgende week gaan uitkom nie. Die belangrikste is dat jy aanhou stap. Gun jouself die ruskanse. Gee jou gedagtes soms vrye teuels om soos wilde perde deur die veld te storm. Sodra jy die wa deur die drif moet trek, kom val daardie einste wilde perde dalk net in lyn.

So hier is op vandag. Carpe diem.

Wanneer dit voel of die jaar te lank raak

Dis November. Nog net 53 slapies en hierdie jaar is ook verby. Waarna kyk jy terug? Wat het hierdie jaar vir jou die moeite werd gemaak?

November. Die tyd van die jaar waar niemand meer lus het nie. Jy is moeg, afgerem, gejaagd. Jy kan nie wag dat dit net verby kom nie. Tog, dit voel ook of die jaar te vinnig ten einde spoed. Daar was so baie wat jy hierdie jaar nog wou doen.

Wat jou situasie ook al mag wees. Waardeer hierdie tyd. Bly rustig. Onthou die goeie van die jaar en sien uit na die Feesgety wat voorlê. Dink voor jy doen. Hou kalm daardie gedagtes.

Sommiges van ons is af, sommiges van ons werk. Hoe dit ook mag sy, maak seker jy sluit 2019 met ’n hoë noot af.

Proeseltjie: Ek vertrou jou – Ciska Olivier

Yvonne spring op, haar hart in haar keel en haar hand oor haar mond. Die besef dat dit net die skerp lig van buite is wat haar ’n oomblik verblind het is byna onmiddellik. Dit is nie Gert nie en tog is die man wat instap definitief ’n ouer weergawe van hom. Haar blydskap neem die wyk, net so vinnig soos dit in haar opgevlieg het.

Die man se doelgerigte stap weifel en twee donker wenkbroue trek saam.

Hy het heel moontlik haar reaksie gesien, dink sy ongemaklik en sluk. Sy bruin hare is in ’n kort, netjiese styl gesny en anders as Gert se verskoning van ’n baard wat maar yl aan sy wange sit, is hierdie man se kakebeen en bolip met ’n ligte kombers oortrek. Die olyfgroen katoenhemp span netjies om sy breë skouers en is opgerol tot net bo sy elmboë. Hy het ’n leerbandjie aan die linkerpols en in sy hand ’n donkerleer aktetas. Die ligblou denim sit gemaklik aan sy nou heupe en sy leerskoene lyk sag en gemaklik. Hy het definitief ’n ander styl as Gert, kan sy nie help om op te let terwyl sy weer opkyk nie.

Dit is twee baie reguit grys kykers wat hare vasvang en selfs bietjie laat ineenkrimp, so intimiderend is hulle. Daar is geen twyfel nie. Hy is Gert se broer. Die omgewingswet prokureur. Continue reading Proeseltjie: Ek vertrou jou – Ciska Olivier

2018 … was dit maar net een jaar?

Dit voel asof hier baie meer dae in hierdie volgepakte jaar was. 2018 was voorwaar tjok en blok vol oppe en affe. Hoogtepunte en laagtepunte. Goeie dinge, amazing dinge, ongelooflike dinge … maar ook minder positiewe oomblikke …

2018 was vir my ’n jaar van verandering. My pad het baie skielik, baie vinnig en baie groot verander. Continue reading

Kalahari sonsak

Daar is min dinge vir my so mooi soos ’n Kalahari sonsondergang … en ek het al BAIE sonsondergange in my lewe gesien. As veldgids was dit ’n daaglikse gebeurtenis. Ry tot jy sien daar is so halfuur oor, dan soek jy ’n mooi ‘spot’, stel die tafeltjie op en maak seker elke gas het ’n drankie terwyl julle toekyk hoe die son nog ’n dag groet.

Niks kan egter die gevoel by my wek wat die Kalahari in my wek nie.

Sag speel die wind deur die wuiwende gras

Die reuk van skoon aarde en vars lug prikkel jou neus

Die koer van ’n duif of die mê van ’n lam in die agtergrond

Jy hoor die wind, jy voel sy arms sag om jou vou

En stadig, grasieus, sak die son nader aan die horison

Rooi kleur die lug, rosig oranje die rand van ’n wolk of skitter silwer op ’n stoflose dag

Die wind raak stil, die duif hou op koer

Vasgevang in tyd, hang die son ’n oomblik bewegingloos …

voor dit skielik wegsink en knip jy jou oë is dit skielik net nie meer daar

Vrede kom vind rusplek in jou siel

Waar anders kan ’n dag so perfek afsluit

 

In ‘n glaskas

Meeste van ons ken iemand of het dalk self ’n glaskas waarin ons daardie spesiale stel breekgoed bêre of waarin ons ‘herinneringe’ gestoor word. Hier en daar sal jy nog ’n fondant oorgetrekte vrugte troukoek met sy fyn blommewerk sien. Soms net die uitnodigings na troues. Die dankie sê geskenkies. Dan is daar die glas beeldjies of gesnyde blomvase. Selfs versamelstukke. Continue reading In ‘n glaskas