Los gedagtes

My gedagtes is ‘n warboel deurmekaar flentertjies. Ek sit dikwels en dink lank en diep oor dinge. Die afgelope tyd is dit net asof niks konkreets in my gedagtegang kom vassit nie. Miskien is dit al die verandering. Miskien wil ek nie nou te diep oor dinge dink nie. Miskien moet ek tot stilstand kom en ‘n slag net weer hoor wat alles in my kop aangaan.

Ek is besig om ‘n tuinhoekie te beplan. My man bou bokse en plant blommetjies, want ek soek ‘n hoekie waarheen ek kan wegbreek en waar ek my siel kan voed. ‘n Hoekie waar ek kan sit en lees of skryf. Waar ek sommer net kan sit en na die voëltjies luister terwyl ek ‘n beker koffie geniet. Ek smag al lank na so hoekie.

Miskien is dit presies wat ek nodig het om weer sin te maak van die warboel in my kop. ‘n Hoekie om my eie te noem. Ingerig soos ek daarvan hou.

Die laaste twee jaar was ons swerwers. Altyd inwoners van iemand anders se huis. Dis tyd om my stempel op my omgewing af te druk en weer tuis te voel in my eie omgewing.

Ek dink die tuinhoekie is die perfekte plek om te begin.

‘n Nuwe rigting is bepaal

’n Storie brand in my, maar dis nie die een waarmee ek besig is nie.

Vir weke sukkel ek al om op dreef te kom met die nuwe reeks. Dit gaan ’n lang reeks wees. Ses boeke. Twee families. Vyf susters, drie broers, ’n verlore familie-lid, en drie buitestaanders. Maar die storie wil net nie vloei nie. Ek weet presies wat moet gebeur. Die beplanning is reg en agtermekaar, maar die skryf daarvan wil net nie op dreef bly nie.

Saterdag kruip ’n storie-idee wat ek lankal reeds noteer h’et in my kop en die een na die ander toneel spring by my op. En ek besef dis tyd om daardie storie eerste te skryf. Ek soek iets wat op ’n ligter trant gebeur. Daar is soveel onsekerheid in die wêreld op die oomblik en ek besef. Dis hoekom ek met my Soetwater susters sukkel. Hulle het ’n vete wat aan haat grens en ek is nie op die regte plek om daaroor te skryf nie.

Ek soek iets op ’n ligter trant. Twee ander stories wat ook lankal reeds wag om vertel te word skakel pragtig in by hierdie nuwe dog ou idee. Iets wat my en uiteindelik die lesers uit ons huidige omstandighede gaan neem en gaan laat lag. Iets wat hulle ontvlugting gaan bied, selfs al speel dit in ’n inperkingstyd af. Want wat is dan beter as om na die Kalahari te ontvlug en te ontdek dat dit waarvan jy weghardloop eintlik dit is wat jy in jou lewe nodig het.

Drie stadsmeisies. Drie pare stilettos. Drie plase in die Kalahari. Drie uiteenlopende mans.

Een doelwit. Liefde.

’n Skuitjie in die oseaan

Ek hou van uitdagings. Iets wat my besig hou. My brein stimuleer. My aan die dink en beplan hou.

Ek is seker daar is baie mense wat gaan sê dit is vanselfsprekend. Baie mense wat sal sê dis mos hoe dit moet wees. Daar is ook ander wat sal verkies om dit nie so te hê nie.

Ons almal verskil. Ek het al dikwels gevoel en gewens ek kan net bietjie rustiger wees. Dinge stadiger vat. Dat my dag net bietjie stiller sal wees. Covid-19 het dit vir meeste van ons moontlik gemaak om te sien en te voel presies hoe dit voel om ‘stil en rustig’ by die huis te moet sit en wag.

Dit is frustrerend. Uitmergelend. Daar was niks ‘stil en rustig’ daaraan nie. Nie toe die probleme werklik begin nie. Dit het my uitgeput en ontneem van entoesiasme, van inspirasie. Dit was horrible. Nie net omdat ons nie werk toe kon gaan nie, maar ook omdat ek en my man ons werk verloor het. Ons is skielik ’n drywende skuitjie in ’n oseaan waarvan die golwe al hoe meer dreigend aanrol. Jy voel of jy gaan sink, maar jy weet ook dat jy ten alle koste hierdie bootjie teen die aanslae moet beskerm. Jy moet planne maak. Water uitskep en beskerming bou teen die groeiende storm.

Niks gebeur maklik of vinnig in hierdie lewe nie. Ek is hard werk en lang ure gewoond. Om met idees vorendag te kom was maklik, dis die wag vir iemand om ’n spreekwoordelike boei uit te gooi sodat jy kan begin werk, wat jou tot op die nerf ontsenu. Almal sukkel op een of ander wyse in hierdie onseker tyd.

Ons is gelukkig. Ons skuitjie was redelik stewig met die uitset van hierdie vaart. Voorsiening het ons van ’n gewisse ‘waterdood’ gered. Ons is nog drywend. ’n Tweede boot het op ons horison verskyn en ons is tans teen dié geanker. Die waters is nie meer so rof nie. Helderder denke het ook inspirasie saam gebring. Ek sien weer uit na die dag. Let wel, ek sien uit, ek vat dit nie meer net soos dit kom nie. Ek dink dit is geweldig belangrik. Jy moet uitsien na iets om dit die moeite werd te maak.

Ek is opgewonde. Inspirasie is besig om terug in my are te kruip en dit maak my opgewonde. Nog ’n nuwe idee het by my kom aanklop en dit het my in ’n ekstatiese toestand, want dis iets wat ek geniet om te doen. Iets wat dalk werklik aftrek sal kry. Ek voel weer die genot van uitdagings. Die vooruitsig van my brein wat besig raak met beplanning.

Dit het nie maklik gekom nie. Ek was traag om na my ou aktiewe self terug te keer. Na maande van ydel ‘rondsit’ en wag vir iemand om oor ons pad te kom doen dit aan ’n mens. Jy probeer jouself tot aksie forseer. Jouself uit die put waarin jy begin afsak het te trek. En dit is nie maklik nie. Ek het soveel begrip met elkeen wat op die oomblik dieper in daardie bodemlose put wegsak. Hoe keer jy depressie? Hoe keer jy lewenskrag wat uit jou wegvloei? Hoe maak jy jou oë in die nuwe dag oop en stel jouself gerus dat dinge sal beter gaan. Een of ander tyd. Dit terwyl jy geen lig aan die einde van die tonnel kan sien nie?

Dis moeilik. Dis hard. Dis ’n onbenydenswaardige posisie.

Ek kan nie voorgee dat ek die antwoorde het nie. Ons elkeen is in ons eie stryd gewikkel. Wat vir my werk, werk nie noodwendig vir die volgende persoon nie. Ek het besef ek moet self hier uit. Ek en my man. Want ons was besig om ons binneste met swart ondeurdringbare modder op te vul. As jy eers daar vasval, dan is die uitkom ’n duisend maal moeiliker.

So ek het harder, ernstiger begin bid. Ek het raad begin soek. Ek het myself aangemoedig om weer te begin uitsien na die dag. Een treetjie op ’n slag. Ek het hierdie ‘helpguide’ webblad raakgesoek en na weke voel ek weer soos my ou self. ’n Enkele tree daagliks het ons weer nader aan verbetering gebring. En wanneer optimistiese inspirerende gedagtes net eers weer begin vloei, raak die pad makliker. Ek is dankbaar. Want te midde van hierdie storm, sien ek weer die naderende sonsopkoms. En ek is seker dit gaan asemrowend wees.

Ek hoop dat jou roete ook reeds verbeter het, jy die krag sal kry om dit aan te pak, of die hoop sal kry wat jy vandag dringend nodig het.

Mag hierdie hulpgids dalk vandag vir jou ook van waarde wees. Hou aan roei. Hou aan hoop. Hou aan bid. Die storm kan nie vir ewig aangaan nie. En onthou, ons word gevorm deur die swaarkry. God is altyd by ons. As jy terugkyk oor die strand en net een ry spore sien, dis oor Hy jou gedra het, dis nie jou spore wat alleen daar lê nie.

Kikker jou dag op met hierdie lied van Rachel Platten: https://www.youtube.com/watch?v=xo1VInw-SKc