Wanneer jou skip nie inkom nie, swem uit na hom toe

2019 … dit het nie begin soos ons gedink het dit sal nie. Bygesê, wanneer begin iets ooit soos jy dink dit sal. Hierdie jaar daarenteen het werklik binne rekordtyd ’n verandering ondergaan. Soveel so dat ons – ek en my man – ’n 360 moes doen. Ons moes ander werk soek, want: Dit reën nie. Die droogte duur voort. Vleis pryse val. Bek-en-klouseer breek in SA uit en daar is nie mielies vir die aanvraag nie …

Boerdery is geen grap nie. Nie wanneer jy van graanboere afhanklik raak wanneer dit nie reën nie en jou veld skraal raak nie … en die graanboere is ook van die reën afhanklik.  Dis ’n bose kringloop. ’n Kringloop geanker in aardsverwarming. ’n Kringloop aangehelp deur ons, die mens. Die uwe wat veronderstel was om na die aarde te kyk. Ons elkeen doen ons deel en het iewers ’n bydrae tot die stand van sake … So hoe herstel ons dit?

My nuwe beleid vir 2019 – Help die aarde, sodat die aarde jou kan help. Dis so maklik.

– Gebruik jou eie herbruikbare inkopiesakke

– Hergebruik of DIY met plastiek/glas houers of bottels

– Koop los groente en vrugte wat jy in jou eie herbruikbare sakkies sit (wenk uit ’n tydskrif: koop die sakkies waarin jy gewoonlik onderklere sal was en gebruik dit eerder as plastiek)

– Lees tydskrifte aanlyn, eerder as om nog ’n hoop aan die einde van die jaar te hê waarin jy amper nooit weer gaan kyk nie

En ek gaan dit uitleef op ’n gasteplaas. Jip, ons gaan ’n lodge management couple word. Ek gaan terug na my professie en die beste van alles – ons gaan uitstedig wees. So reg in my man se kraal.

’n Uitdaging gaan dit wees. Maar ons is gereed hiervoor.

Kalahari sonsak

Daar is min dinge vir my so mooi soos ’n Kalahari sonsondergang … en ek het al BAIE sonsondergange in my lewe gesien. As veldgids was dit ’n daaglikse gebeurtenis. Ry tot jy sien daar is so halfuur oor, dan soek jy ’n mooi ‘spot’, stel die tafeltjie op en maak seker elke gas het ’n drankie terwyl julle toekyk hoe die son nog ’n dag groet.

Niks kan egter die gevoel by my wek wat die Kalahari in my wek nie.

Sag speel die wind deur die wuiwende gras

Die reuk van skoon aarde en vars lug prikkel jou neus

Die koer van ’n duif of die mê van ’n lam in die agtergrond

Jy hoor die wind, jy voel sy arms sag om jou vou

En stadig, grasieus, sak die son nader aan die horison

Rooi kleur die lug, rosig oranje die rand van ’n wolk of skitter silwer op ’n stoflose dag

Die wind raak stil, die duif hou op koer

Vasgevang in tyd, hang die son ’n oomblik bewegingloos …

voor dit skielik wegsink en knip jy jou oë is dit skielik net nie meer daar

Vrede kom vind rusplek in jou siel

Waar anders kan ’n dag so perfek afsluit

 

Wanneer die eerste reën val

Tikke-tikke-tak tikke-rikke-tak

val die reën op die dak

Daar is ’n lied in my hart

as ek dink aan die boere se smart

Die jaar was droog

hulle staan met ’n traan in die oog

Seëninge soos silwer val uit die lug

om weer regop te trek die rug

Vol loop die gemoed

vir eers gaan dit nou weer goed

 

 

Daar is niks wat my hart so laat swel soos die klank van reën wat neersyg oor ’n dorstige aarde.

Die jaar was lank, die reën was min en in heelwat gemoedere is ’n smeekgebed.

Die eerste goeie reën so vroeg in die najaar laat ons hoop, mag ons Skepper hierdie seisoen ons gebede verhoor en sy seën oor ons kom giet.