Los gedagtes

My gedagtes is ‘n warboel deurmekaar flentertjies. Ek sit dikwels en dink lank en diep oor dinge. Die afgelope tyd is dit net asof niks konkreets in my gedagtegang kom vassit nie. Miskien is dit al die verandering. Miskien wil ek nie nou te diep oor dinge dink nie. Miskien moet ek tot stilstand kom en ‘n slag net weer hoor wat alles in my kop aangaan.

Ek is besig om ‘n tuinhoekie te beplan. My man bou bokse en plant blommetjies, want ek soek ‘n hoekie waarheen ek kan wegbreek en waar ek my siel kan voed. ‘n Hoekie waar ek kan sit en lees of skryf. Waar ek sommer net kan sit en na die voëltjies luister terwyl ek ‘n beker koffie geniet. Ek smag al lank na so hoekie.

Miskien is dit presies wat ek nodig het om weer sin te maak van die warboel in my kop. ‘n Hoekie om my eie te noem. Ingerig soos ek daarvan hou.

Die laaste twee jaar was ons swerwers. Altyd inwoners van iemand anders se huis. Dis tyd om my stempel op my omgewing af te druk en weer tuis te voel in my eie omgewing.

Ek dink die tuinhoekie is die perfekte plek om te begin.

Vreemde draaie

Die lewe het die vermoë om vreemde draaie met ’n mens te loop. Ek is seker almal op aarde voel op hierdie oomblik of hulle in een of ander vorm van ’n weghol-trein, tollende rondomtalie of skuitjie in ’n groeiende onstuimige see is. Nie een van ons wil werklik aan ’n ander se probleem dink terwyl ons nou so vasgevang is in ons eie probleme nie. Sommige wonder, wanneer kan ek eendag weer werk toe gaan. Ander, waar gaan ons volgende bord kos vandaan kom. Ander neem van die situasie misbruik en buit mense op die slinksste maniere uit om hulle van hul ‘hard earned income’ te ontneem.

Ekself weet werklik nie meer wat om te dink of hoe hierdie situasie hom gaan uitspeel nie. Om baie eerlik te wees Continue reading Vreemde draaie

Wanneer die lang wag verby is

en die vakansie werklikheid word …

Vandat Christelle in 2018 haar voete op Franse bodem bevind het in Krummelpap in Parys, beloof ek myself al dat ek self ook eendag die roetes wat sy gestap gaan aandurf. Daardie droom word uiteindelik werklikheid.

So lank as wat ek kan onthou, nee wag, so vroeg as toe ek my eerste Ena Murray boeke gelees het, droom ek al van ’n reis na Europa. Die kastele en geheime bouvalle het my destyds al gefassineer. Mettertyd het die belangstelling gegroei. Die geskiedenis. Die kultuur. Die andersheid van wat ons hier in Afrika ken. Dit alles het my gelok. En toe Nataniel met Edik van Nantes verskyn, toe is nie net ek nie, maar ook my man vasgevang. Daardie reis het ’n vaste voorneme geword.

In 2019 begin ons wonder waarheen gaan ons met ons volgende verlof … my antwoord: “Frankryk. En terwyl ons daar is, hoekom nie Italië ook nie? Dis waar Jana van Haar hartsbegeerte en meer haar immers in ’n fontein bevind het.”

Beplanning en die gewag het begin en die naels kou na die dag wat ons vir ons Visas moet aansoek doen en hier is ons op die drumpel. Visas in die een hand, vlugkaartjies in die ander en ons rugsakke gereed om gepak te word. Krummelpap in Parys en Haar hartsbegeerte en meer lê gereed. Die dames is gereed om weer Europa te besoek. Hierdie keer vir ’n werklike besoek.

🙂

“Spa? Dis net vir vroumense.”

Dit is dikwels die terugvoer wanneer jy ’n man saamnooi vir ’n pamperlang sessie. Wel, my man kan anders oortuig. Alhoewel hy nie sommer net sal ingee nie, want, soos die opskrif sê: “Dis mos net vir vroumense,” kan ek jou dit sê: wanneer daai salige glimlag aan sy mondhoeke hak en hy erken hoe lekker dit is om so bederf te word en die stres uit hom te voel vloei onder die kundige hande wat jou spiere uitvryf – iets wat jy nie geleer het hoe om so goed toe te pas nie … dan word daar ’n baie teenoorgestelde deuntjie gesing.

Hierdie realisasie het so ses of sewe jaar gelede begin. Ek het ’n geskenkbewys ontvang vir ’n rugmasering, maar wou graag hierdie keer die dag met iemand deel en ’n kuiersessie daarvan maak. My man – toe nog net my kêrel – het gesê dis darem ’n lekker bederf. Pieng! Hoekom vat ek hom nie saam nie? Hmpf! Hy was nie oortuig nie en het daardie einste opskrifwoorde geuiter. Ek? Ek was vasbeslote. Dit was tyd dat ’n man ook bietjie bederf kan word en besef dit is nie net vir ons skoner geslag beskore nie.

Ses, sewe jaar later met ’n hele paar van sy vingers afgetik in hierdie bederf, geniet hy dit nog steeds wanneer ek so afsprakie reël en hom saam inreken – Al spot hy nog dat dit nie vir ’n geharde man bedoel is nie. Feit bly staan. Dit is lekker om bederf te word, al is dit soms deur iets anders te doen as die gewone wat jyself kan bied. Dis immers ’n kans vir al daardie stres om weggewerk te word. Kans om saam te ontspan en gepamperlang te word. Veral wanneer jy as paartjie saam kan ontspan met ’n pressure point foot massage, gevolg deur ’n upperbody en head massage, ’n kelkie rooibos mengeldrankie, sjokolade en na ’n helende stoomsessie in ’n jacuzzi kan ontspan.

Watter man sal dan nie sy vrou na hierdie bederf wil volg nie.  😉

 

Wanneer dit voel of die jaar te lank raak

Dis November. Nog net 53 slapies en hierdie jaar is ook verby. Waarna kyk jy terug? Wat het hierdie jaar vir jou die moeite werd gemaak?

November. Die tyd van die jaar waar niemand meer lus het nie. Jy is moeg, afgerem, gejaagd. Jy kan nie wag dat dit net verby kom nie. Tog, dit voel ook of die jaar te vinnig ten einde spoed. Daar was so baie wat jy hierdie jaar nog wou doen.

Wat jou situasie ook al mag wees. Waardeer hierdie tyd. Bly rustig. Onthou die goeie van die jaar en sien uit na die Feesgety wat voorlê. Dink voor jy doen. Hou kalm daardie gedagtes.

Sommiges van ons is af, sommiges van ons werk. Hoe dit ook mag sy, maak seker jy sluit 2019 met ’n hoë noot af.

Positiwiteit – ‘n Keuse

Daar is baie interessante artikels oor positiwiteit en hoe om ’n positiewe uitkyk te kweek. ’n Interessante een wat ek toevallig ontdek het was hierdie een en dit was ’n goeie herinnering dat ons vir ons eie geluk en gemoedstoestand verantwoordelik is:

Artikel: wees positief in gesindheid & denke

Ek het dit heel toevallig ontdek omdat ek skielik Maandagoggend nie kon onthou hoe om die woord ‘positiwiteit’ te skryf nie. Jip. Continue reading Positiwiteit – ‘n Keuse

Lodge werk

Daar is twee dinge wat mense nie weet nie of wat mens vergeet van die lewe van bestuurders op ’n lodge.

  • Dat hulle drie tot ses weke aaneen, soos in daagliks – Sondag, vakansiedag, maak nie saak nie – werk voor hulle af is vir ses of twaalf dae. Dit hang van besigheid tot besigheid af watter siklus jy volg.
  • Dat hulle nie net ’n agt ure dag werk nie. Personeel kom en gaan op hulle skofte, maar die bestuur bly staan.

Ek is seker daar is verskeie plekke waar hierdie reëls nie van toepassing is nie, maar dit is die lewe waaraan ek gewoond was na my studies en hoe ek vir die eerste sewe jaar van my loopbaan gewerk het. Geen persoonlike lewe nie. Werk vandat jy jou oë soggens oopmaak, tot jy jou oë vanaand toemaak. En om die waarheid te sê het dit my daardie tyd nie vreeslik gepla nie. Soms was die dae oneindig lank en ander kere was die dae stil, maar by die werk was jy nietemin.

Dinge verander egter. Continue reading Lodge werk

Wanneer die lus om te skryf aan jou begin kou

Dit kriewel in my. Die woorde. Die idees. Die liefde.

Dit is middel Februarie, maar ek het nog nie weer pen op papier – of in my geval vinger op sleutelbord – gelê vir die nuwe verhale wat wag om geskryf te word nie. Dit kriewel in my, maar tyd is my vyand. Wanneer jy ‘n nuwe gebied, ‘n nuwe werk en ‘n nuwe, hetsy ou bekende, leefwyse aanpak, vra dit al jou tyd, aandag en energie.

Dit is heerlik om weer in die natuur te wees en die omgewing waarin ons ons bevind, is asemrowend. Dit maak dat idees begin lewe kry en dit soek uitkomplek … Nou moet ek net eers weer ‘in step with it’ kom. Dan gaan ek weereens onkeerbaar wees.   🙂

 

 

2018 … was dit maar net een jaar?

Dit voel asof hier baie meer dae in hierdie volgepakte jaar was. 2018 was voorwaar tjok en blok vol oppe en affe. Hoogtepunte en laagtepunte. Goeie dinge, amazing dinge, ongelooflike dinge … maar ook minder positiewe oomblikke …

2018 was vir my ’n jaar van verandering. My pad het baie skielik, baie vinnig en baie groot verander. Continue reading

Lugleegte

Wat doen jy wanneer daar net blank space in jou kop is?

Ek bevind my op ’n vreemde plek. Ek is nie presies seker wat aangaan nie. Mis ek net my man? Het die realiteit van ons lewensverandering begin insink? Skop my gemaklikheid-sone reguleerder in? Kort ek dalk net ’n ordentlike vakansie? Is die lang wag om te hoor of nog ’n manuskrip goedgekeur is die ding wat my skrywe stuit? Continue reading Lugleegte