Vertroue … of die gebrek daaraan

Daar is min dinge wat mens so diep sny soos om heeltyd en konstant teleurgestel te word. Wanneer jy iemand is wat maklik vertrou, maklik geheg raak, maklik iemand glo, dan is die trefslag soveel erger wanneer jy besef hoe min jy in ag geneem word. Wat maak so persoon met konstante afjakke? Konstante afbreking? Konstante teleurstelling? Jy raak hard. Jy raak ongenaakbaar. Jy raak die persoon wat nie omgee hoe ander voel en wat gebeur nie …. Maar nie altyd nie.

Blykbaar nie ek nie. Ten spyte van hoeveel keer ek al in my lewe ontnugter is, ek wil aanhou glo in die goedheid van mense. Hul kapasiteit om te verbeter. Hul kapasiteit om bo hul probleme, onsekerhede, onredelike verwagtinge uit te styg.

Gullible. Dis wat ek al genoem is. En weet jy, ja ek is dikwels, maar tog leer ek ook. Ek het al ’n stuk van my menswees verloor omdat ek te veel vertroue in my medemens geplaas het. Te veel verwag het. Te veel bly vaskyk het in wat ek wou glo die ‘waarheid’ rondom hulle is. En weet jy. Dit is oukei. Dit is wie ek is en dit is wat God van my verwag om te wees. Gee nooit moed op nie. Gee nooit om jou medemens op nie. Gee nooit teenoor jouself op nie. Bly lief en bly deel daardie liefde uit.

So staan op. Stof af daardie stof en durf die pad weer aan, want dit maak nie saak hoeveel keer jy val terwyl jy die berg klim nie, solank jy die bo-punt uiteindelik bereik en nog steeds kan glo, dan weet jy dat jy die regte ding gedoen het en regverdig was. Teenoor ander en teenoor jouself.

Lodge werk

Daar is twee dinge wat mense nie weet nie of wat mens vergeet van die lewe van bestuurders op ’n lodge.

  • Dat hulle drie tot ses weke aaneen, soos in daagliks – Sondag, vakansiedag, maak nie saak nie – werk voor hulle af is vir ses of twaalf dae. Dit hang van besigheid tot besigheid af watter siklus jy volg.
  • Dat hulle nie net ’n agt ure dag werk nie. Personeel kom en gaan op hulle skofte, maar die bestuur bly staan.

Ek is seker daar is verskeie plekke waar hierdie reëls nie van toepassing is nie, maar dit is die lewe waaraan ek gewoond was na my studies en hoe ek vir die eerste sewe jaar van my loopbaan gewerk het. Geen persoonlike lewe nie. Werk vandat jy jou oë soggens oopmaak, tot jy jou oë vanaand toemaak. En om die waarheid te sê het dit my daardie tyd nie vreeslik gepla nie. Soms was die dae oneindig lank en ander kere was die dae stil, maar by die werk was jy nietemin.

Dinge verander egter. Continue reading Lodge werk

Wanneer jou skip nie inkom nie, swem uit na hom toe

2019 … dit het nie begin soos ons gedink het dit sal nie. Bygesê, wanneer begin iets ooit soos jy dink dit sal. Hierdie jaar daarenteen het werklik binne rekordtyd ’n verandering ondergaan. Soveel so dat ons – ek en my man – ’n 360 moes doen. Ons moes ander werk soek, want: Dit reën nie. Die droogte duur voort. Vleis pryse val. Bek-en-klouseer breek in SA uit en daar is nie mielies vir die aanvraag nie …

Boerdery is geen grap nie. Nie wanneer jy van graanboere afhanklik raak wanneer dit nie reën nie en jou veld skraal raak nie … en die graanboere is ook van die reën afhanklik.  Dis ’n bose kringloop. ’n Kringloop geanker in aardsverwarming. ’n Kringloop aangehelp deur ons, die mens. Die uwe wat veronderstel was om na die aarde te kyk. Ons elkeen doen ons deel en het iewers ’n bydrae tot die stand van sake … So hoe herstel ons dit?

My nuwe beleid vir 2019 – Help die aarde, sodat die aarde jou kan help. Dis so maklik.

– Gebruik jou eie herbruikbare inkopiesakke

– Hergebruik of DIY met plastiek/glas houers of bottels

– Koop los groente en vrugte wat jy in jou eie herbruikbare sakkies sit (wenk uit ’n tydskrif: koop die sakkies waarin jy gewoonlik onderklere sal was en gebruik dit eerder as plastiek)

– Lees tydskrifte aanlyn, eerder as om nog ’n hoop aan die einde van die jaar te hê waarin jy amper nooit weer gaan kyk nie

En ek gaan dit uitleef op ’n gasteplaas. Jip, ons gaan ’n lodge management couple word. Ek gaan terug na my professie en die beste van alles – ons gaan uitstedig wees. So reg in my man se kraal.

’n Uitdaging gaan dit wees. Maar ons is gereed hiervoor.

2018 … was dit maar net een jaar?

Dit voel asof hier baie meer dae in hierdie volgepakte jaar was. 2018 was voorwaar tjok en blok vol oppe en affe. Hoogtepunte en laagtepunte. Goeie dinge, amazing dinge, ongelooflike dinge … maar ook minder positiewe oomblikke …

2018 was vir my ’n jaar van verandering. My pad het baie skielik, baie vinnig en baie groot verander. Continue reading

Lugleegte

Wat doen jy wanneer daar net blank space in jou kop is?

Ek bevind my op ’n vreemde plek. Ek is nie presies seker wat aangaan nie. Mis ek net my man? Het die realiteit van ons lewensverandering begin insink? Skop my gemaklikheid-sone reguleerder in? Kort ek dalk net ’n ordentlike vakansie? Is die lang wag om te hoor of nog ’n manuskrip goedgekeur is die ding wat my skrywe stuit? Continue reading Lugleegte

Wanneer jou muse afwesig is

Ek het gewoond geraak. Baie gewoond. Is ek dalk bederf? Absoluut. Dit is ongelooflik hoe afhanklik jy eintlik van iemand kan raak. O, ek is nog baie onafhanklik, maar ek is ook geweldig afhanklik van my man. Ek is afhanklik van sy liefde. Sy bystand. Sy aanmoediging. Selfs net sy nabyheid … veral sy nabyheid.

Twee maande gelede het ’n groot verandering in ons lewens gekom. Continue reading Wanneer jou muse afwesig is