Vertroue … of die gebrek daaraan

Daar is min dinge wat mens so diep sny soos om heeltyd en konstant teleurgestel te word. Wanneer jy iemand is wat maklik vertrou, maklik geheg raak, maklik iemand glo, dan is die trefslag soveel erger wanneer jy besef hoe min jy in ag geneem word. Wat maak so persoon met konstante afjakke? Konstante afbreking? Konstante teleurstelling? Jy raak hard. Jy raak ongenaakbaar. Jy raak die persoon wat nie omgee hoe ander voel en wat gebeur nie …. Maar nie altyd nie.

Blykbaar nie ek nie. Ten spyte van hoeveel keer ek al in my lewe ontnugter is, ek wil aanhou glo in die goedheid van mense. Hul kapasiteit om te verbeter. Hul kapasiteit om bo hul probleme, onsekerhede, onredelike verwagtinge uit te styg.

Gullible. Dis wat ek al genoem is. En weet jy, ja ek is dikwels, maar tog leer ek ook. Ek het al ’n stuk van my menswees verloor omdat ek te veel vertroue in my medemens geplaas het. Te veel verwag het. Te veel bly vaskyk het in wat ek wou glo die ‘waarheid’ rondom hulle is. En weet jy. Dit is oukei. Dit is wie ek is en dit is wat God van my verwag om te wees. Gee nooit moed op nie. Gee nooit om jou medemens op nie. Gee nooit teenoor jouself op nie. Bly lief en bly deel daardie liefde uit.

So staan op. Stof af daardie stof en durf die pad weer aan, want dit maak nie saak hoeveel keer jy val terwyl jy die berg klim nie, solank jy die bo-punt uiteindelik bereik en nog steeds kan glo, dan weet jy dat jy die regte ding gedoen het en regverdig was. Teenoor ander en teenoor jouself.

Haar hartsbegeerte en meer

Ek is ’n groot CSI entoesias. Hetsy dit CSI Miami, NY, Las Vegas, NCIS of Air crash investigations is. Ek hou daarvan om probleme op te los en antwoorde te vind vir dinge wat ek nie verstaan nie. Die manier hoe mense dink en wat maak dat hulle doen wat hulle doen. Hierdie is dinge wat my aan die dink sit. Gee egter vir my ’n speurverhaal … Wel. Dit gaan nie so sterk af nie. Ek dink daar is ’n mate van vryheid daarin om nie jou brein te veel in te span nie en ’n boek het die vermoë om jou brein oortyd te laat werk. Boonop kan ek nie ’n boek neersit as ek eers begin het nie.

Dus, die tv reekse pas my goed en as ek skryf, dan hou ek van die meer romantiese sy van dinge. Dis immers waar my groot liefde lê. By die LIEFDE.

Hoe dan nou anders as om die twee te kombineer? Wat kan groter onsekerheid by my heldin bring as om ’n man te ontmoet vir wie sy wil vertel wie sy is maar sy kan nie, want hy is ’n werknemer van die plek wat sy ondersoek. Wat kan nog groter innerlike konflik veroorsaak as ’n vrou wat nie weer iets vir enige man wil voel nie en dit juis as ’n skild gebruik. Teen haarself.

En dan kom die held wat hom nie laat afsit deur die heldin se hardekwasgeid nie. ’n Man wat self sy eie duiwels het, maar wat tog nie bang is vir lewe nie. Vir voel nie. Of hy gaan commit, dit is natuurlik ’n heel ander vraag. Dieselfde vraag wat die heldin heeltyd op haar pasoppens hou.

So hoegemaak met twee mense wat glad nie dink ’n happily forever after is hulle beskore nie?

Begeerte. Vuurwerke vanaf die eerste ontmoeting. Kyke wat ’n vertrek aan die brand sal steek. ’n Mag sterker as hulself wat hulle konstant na mekaar toe aantrek, no matter what.

Gooi in ’n jong man wat dink hy is slimmer as ander en die heldin boonop in haar eie ondersoek betrek, tot hy oornag verdwyn en jy het ’n baie bekommerde vrou wat iemand moet vertrou. Al is dit die laaste man wat sy ooit sou wou betrek.

(Op hierdie punt moet ek sê: LET WEL, Ek vertrou jou en Haar hartsbegeerte en meer loop hand aan hand en jy lees presies wat van Gert geword het in Ek vertrou jou, so as jy kan, lees Haar hartsbegeerte en meer eerste. 🙂 )

En ta-da! Die storie het homself begin skryf. Want niks kan iets keer wat bedoel is om te wees nie. Geen gebrokenheid, geen reëls, geen geheime en geen afstand nie. Wat moet wees, sal wees. En dit was.

Ek hoop jy geniet hierdie storie net soveel soos ek dit geniet het om dit vir jou te skryf.

Ek vertrou jou

So waar het dit begin? Letterlik by ’n motorfiets. So ’n groot swart gevaar met ’n brullende enjin wat my skoon hiebiejiebies gegee het. En ek het maar net langs hom gestaan. Tog het ek ’n vreeslike sagte plek vir groot brullende enjins. Hetsy bakkie of motorfiets.

En dan my liefde vir donderstorms. Een spesifieke, baie memorable een. Een wat selfs vir my bang gemaak het soos dit die aarde geskud het. Een wat my laat wonder het wat ek sal maak as ek in die middel van die nag wakker word en besef my bed dryf, want die rivier het afgekom en my kamer is net-net op die hoogwatermerk van die gronddam voor die oord.

Volgende was dit natuurlik ’n vrou wat in ’n tipe liefdesdriehoek vasgevang is en dat sy spoke in haar verlede het. Tog kyk sy altyd vorentoe. Is sy altyd positief. Soek sy altyd die goeie in mense. Maar daardie spoke in haar verlede kom onverwags weer na vore deur die assosiasie met een spesifieke man. ’n Man met ’n donker verlede van sy eie. ’n Man wat hard gemaak is deur die lewe en sy ondervindings. ’n Man wat alles as swart en wit sien en mense skuldig bevind tot anders bewys.

Hoe kan twee sulke mense dan ooit bymekaar uitkom? Wel, buig of bars, ek sou bewys dat vertroue uit so kombinasie kan voortspruit en dat liefde op die einde van die dag sterk genoeg is om mense, ten spyte van die grootste onsekerhede en struikelblokke, wel bymekaar kan uitkom. En dat ons diepste vrese soms klein raak in die aangesig van daardie liefde.

Geniet dit! 🙂

 

Proeseltjie: Ek vertrou jou – Ciska Olivier

Yvonne spring op, haar hart in haar keel en haar hand oor haar mond. Die besef dat dit net die skerp lig van buite is wat haar ’n oomblik verblind het is byna onmiddellik. Dit is nie Gert nie en tog is die man wat instap definitief ’n ouer weergawe van hom. Haar blydskap neem die wyk, net so vinnig soos dit in haar opgevlieg het.

Die man se doelgerigte stap weifel en twee donker wenkbroue trek saam.

Hy het heel moontlik haar reaksie gesien, dink sy ongemaklik en sluk. Sy bruin hare is in ’n kort, netjiese styl gesny en anders as Gert se verskoning van ’n baard wat maar yl aan sy wange sit, is hierdie man se kakebeen en bolip met ’n ligte kombers oortrek. Die olyfgroen katoenhemp span netjies om sy breë skouers en is opgerol tot net bo sy elmboë. Hy het ’n leerbandjie aan die linkerpols en in sy hand ’n donkerleer aktetas. Die ligblou denim sit gemaklik aan sy nou heupe en sy leerskoene lyk sag en gemaklik. Hy het definitief ’n ander styl as Gert, kan sy nie help om op te let terwyl sy weer opkyk nie.

Dit is twee baie reguit grys kykers wat hare vasvang en selfs bietjie laat ineenkrimp, so intimiderend is hulle. Daar is geen twyfel nie. Hy is Gert se broer. Die omgewingswet prokureur. Continue reading Proeseltjie: Ek vertrou jou – Ciska Olivier