Ciska gesels oor skryf

Hoekom liefdesverhale?

Ek was 12 toe ek ontdek het dat lees lekker is en dit a.g.v ‘n besering wat my in die bed gehou het vir ‘n week. My heel eerste boek was Adrenalien van Leon van Nierop. Direk daarna het ek ‘n Ena Murray omnibus opgetel en dit was die einde. Die liefdesverhaal het sy kloue ordentlik ingeslaan, want geen ander genre kan my so boei nie. Ek het dikwels deurnag gelees en aangesien ek ‘n koshuiskind was en nie gereeld oor naweke kon huis toe gaan nie, het ek baie tyd op hande gehad vir lees. Ek dink nie daar is ‘n liefdesverhaal, Afrikaans of Engels, wat ek oorgeslaan het in die skool – of dorpsbiblioteek nie. Ek is ‘n romantikus en sien altyd die moontlikheid van liefde, want niemand is te goed of te sleg om lief te hê of lief te kry nie.

Wie of wat het jou geïnspireer om te skryf?

Ek het ‘n vreeslike aktiewe verbeelding en dit het op hoërskool duidelik geraak wanneer my opstelle dikwels langer geraak het as die voorgeskrewe hoeveelheid woorde. Met die hoeveelheid wat ek gelees het, was my kop amper altyd in die wolke en het ek dikwels die stories vooruit begin dink. Ek het natuurlik ander scenarios as die skrywers uitgedink en so het ek uiteindelik besluit om self iets te skryf en te sien wat gebeur. Dit het nie by een storie gebly nie. ‘n Vriendin het my stories gelees en daarvan gehou en so het die res van my koshuismaats die handgeskrewe stories begin lees en my aangemoedig vir nog. Dit het my laat besluit dat ek liefdesverhale wil skryf en ek het nog nooit opgehou nie.

Wat is vir jou die heel lekkerste van skryf?

Mense sal dalk dink dit is laf of dat ek vreeslik eensaam is (glo my, ek is nie, daarvoor sorg my man – en ek – dat ons gereeld genoeg uit die huis kom), maar elke karakter wat ek skep is my vriend en vriendin. Hulle is mense wat ek graag sal wil ken en dit is heerlik as hulle so nou en dan oorneem. Glo my, dit gebeur en dan kan my vingers nie byhou nie. Die lekkerste is wanneer jy by die ontknoping kom en liefde uiteindelik seëvier. Dit is ook die ergste, want dit beteken die boek is klaar.

Wat is die ergste van skryf?

Die wagproses na jy daardie manuskrip gepos het. En om nie al die tyd moontlik beskikbaar te hê vir skryf nie. Ongelukkig moet die meerderheid van ons ook nog werk vir ‘n lewe.

Wat is jou skrywersdroom?

Jy betree ‘n nuwe wêreld elke keer wat jy ‘n boek oopmaak. Dit is wat ek wil doen. Om elke persoon wat my boeke lees op ‘n reis te neem na ‘n plek waar hulle vir ‘n rukkie kan vergeet van al hul eie probleme en onsekerhede. Na ‘n plek waar vroue so nou en dan die kos verbrand, omdat hulle nie die boek kan neersit nie. Waar mans – die wat ooit sal waag om ‘n romanse op te tel – vergeet hulle hoef nie altyd so sterk en onwrikbaar te wees nie, want vroue hou daarvan om soms die meer emosionele sy van ‘n man te sien. Elke mens verdien om iets te geniet, net omdat dit lekker is. Dit is wat ek hoop om te bereik.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s