Wanneer jy op ‘n skaapplaas grootword is roofdiere die vyand … veral rooijakkalse. By die see is dit egter ‘n heel ander saak wanneer die strandlopers ewe rustig langs jou bakkie verby kom draf terwyl jy vir ’n vissie wag om jou aas op te tel. Teen hierdie dorre kusgebied langs moet ’n roofdier baklei om oorlewing. Hier is sy kos enkele muise, jong robbe wat uitspoel en so nou en dan die visserman wat vir hom ’n paar sardyne gooi. Dit was vir ons ongelooflik besonders dat hierdie aartsvyand van ’n boer so mak soos ’n rondloper hond kan raak wanneer daar ’n kans op ’n gratis kossie is … Maar oor een ding is ons eens. Hy moet net daar by die see agterbly.
Die Namibiese kus sien min kere reën, maar wanneer die weer skielik verander en daar water vanuit die land afloop see toe, bring dit nuwe lewe met hom saam. Die groenigheid wat skielik uitslaan is ’n anderster belewenis. Hier waar wind, son en sand aan die orde van die dag is, kom die groenigheid as ’n lafenis en kan mens nie help om te wonder wat die veranderende weerpatrone nog vir ons gaan inhou nie.
’n Paar dae by die see is altyd ontspannend en wanneer jy so gelukkig was om vis te vang, dan is die tuiskoms soveel lekkerder. En so nou en dan stop jy langs die pad om bietjie pienk sout te koop … Al is dit die duurste sout waarop jy dalk ooit in jou lewe sal afkom!